Sunday, 9 March 2008

Man in vigs se doodskadu na hel van verkragting by polisiekantoor

Mnr. Nico Bouwer het kort voor sy troue verlede naweek 'n gru-verkragting in die polisieselle in Polokwane beleef en vrees nou dat hy dalk die vigsvirus opgedoen het.

Willem Pelser

Polokwane (Pietersburg)

Dis die vrees van elke wetsgehoorsame burger. Jy beland sonder goeie rede in ’n polisiesel en word verkrag.

Dit is wat met ’n jong pa van Polokwane gebeur het - enkele weke voor sy troue.

Verlede Saterdag is Nico Bouwer (25) onder swaar medikasie getroud - anti-depressante weens erge trauma en anti-retrovirale middels om MIV/vigs te voorkom.

Vier aangehoudenes het Bouwer herhaadelik in een nag verkrag. Die polisie het niks gedoen om dit te keer nie. Hy is vroeër die dag op ’n ongelukstoneel in hegtenis geneem en in die selle geboender. Bouwer sê hy is nie toegelaat is om die telefoonoproep te maak wat die wet voorskryf nie.

’n Gebroke Bouwer het die afgelope week openhartig met Rapport gepraat oor sy nagmerrie wat begin het toe hy op 6 Januarie in hegtenis geneem is omdat ’n polisiebeampte geglo het hy het roekeloos bestuur.

By die polisiekantoor het Bouwer vier keer gevra om sy familie te bel, maar sy versoek is volgens hom geweier.

In die vuil polisieselle saam met 25 ander aangehoudenes is sy arms vasgehou en sy kop in ’n kussing vasgedruk sodat sy gille nie gehoor kon word nie.

Bouwer het hardop gehuil van skok en ontsteltenis. Deur die loop van die nag is hy herhaaldelik deur vier gevangenes verkrag. Die polisie het nie een keer kom kyk wat in die selle aangaan nie, sê hy.

Later het Bouwer sy bewussyn verloor.

Toe hy vroeg die volgende oggend wakker word, het een van die mans na hom gekruip en glimlaggend gefluister: “Ná laasnag is jy waarlik een van ons...”

Dié man het padgegee toe ’n polisiebeampte by die sel verbystap. Bouwer is ure later op borgtog vrygelaat nadat sy familie hom uiteindelik opgespoor het.

Hy het inmekaar gestort en sy familie het met hom hospitaal toe gejaag, waar toetse op hom gedoen is.

Die polisie het op sy klere beslag gelê om DNS-getuienis teen die verkragters te bekom.

Bouwer word vandeesweek finaal getoets vir MIV/vigs en hy sê hy is tot die dood toe bekommerd.

Die voorval het hom emosioneel verpletter. Hy kry nagmerries en terugflitse. “En ek staan nog gereeld soggens op en ruik die stank van die polisieselle waar ek verkrag is.”

Bouwer én sy bruid Rose-Mary (24) moet volgens dokters intensiewe berading kry - as Bouwer die geld daarvoor kan bymekaar kan kry. Sy vrou het haar werk verloor en hy het nie ’n mediese fonds nie.

Sy seuntjie Jevani (5) - wat verstaan dat sy pa deur die polisie opgesluit is - het ’n intense vrees ontwikkel vir polisiebeamptes.

Bouwer het reeds vier van die verkragters uitgewys en hulle het op klagtes van verkragting in die hof verskyn. Hy wil ook ’n groot siviele eis teen die polisie instel.

Insp. Lesiba Ramosheba, polisiewoordvoerder in Polokwane, het die voorval teenoor Rapport bevestig. Hy ontken dat Bouwer nie toegelaat is om ’n oproep te maak nie. Hy ontken ook dat die polisie versuim het om gereeld te gaan kyk wat in die selle aangaan waar Bouwer aangehou is.

Klagtes van verkragting in aanhouding is seldsaam, sê prof. Peter Jordi, prokureur by die Wits-regskliniek. Maar as dit gebeur kan die polisie aanspreeklik gehou word.

Hy sê die polisie is veronderstel om selle gereeld te inspekteer. In 2005/2007 is 285 mense in polisie-aanhouding dood. In 2006/2007 was dié syfer 248. In 2003 is ’n 15-jarige in die Amsterdam-polisieselle in Mpumalanga deur ouer mans verkrag. In 2006 is ’n jong vrou in die Thembalethu-polisiestasie buite George verkrag nadat sy saam met vier jeugdiges in ’n sel toegesluit is. In Julie verlede jaar is mnr. Peter Wheeler (55) van Middelburg deur mede-gevangenes in polisieselle op Grabouw doodgeslaan en -geskop nadat hy vir beweerde dronkenskap in hegtenis geneem is.

Enigeen wat 'n finansiële bydrae wil maak tot Nico Bouwer en sy gesin se mediese en sielkundige behandeling, en ander uitgawes as gevolg van die voorval, kan 'n skenking inbetaal in die volgende spaarrekening by Standardbank: 133 648 044.

Die takkode is 052 548 en die rekening is in Polokwane.

Bouwer se telefoonnommer is 079 600 8744

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2284569,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.