Monday, 24 March 2008

Man vermoor, want rower was honger

Mnr. Jaco Marais (28)troos sy stiefma mev. Rhoda Marais (48) oor die verlies van sy pa, mnr. Kobus Marias (59), wat die naweek tydens 'n huisroof vermoor is. Foto: Mario van de Wall

Mar 23 2008 09:07:32:057PM - (SA)

Cobus Coetzee

“Ek was honger, so f*k jou,” het die moordenaar van mnr. Jaco Marais (28) se pa vir hom oor Marais se geroofde selfoon gesê.

Marais het sy selfoonnommer gebel nadat sy pa, Kobus, in die hospitaal dood is nadat hy tydens ’n aanval Donderdagnag in sy nuwe aftreehuis aan die Oos-Rand geskiet is.

“My pa is net ná middernag in die Arwyp-hospitaal (in Kempton Park) dood. Ek het huis toe gery en sy selfoon gevat en my eie een gebel.

“Die rower het opgetel.

“Ek het vir hom gevra hoekom hy my pa vermoor het en hy het geantwoord: ‘I was hungry so f*ck you’,” het Marais gister vertel. Die man het stilgebly en toe die selfoon afgesit.

Die Marais-gesin het drie weke gelede by die huis ingetrek.

“My pa wou hier aftree. Ons was almal Donderdagaand by die nuwe huis en het in die kombuis gekuier,” het Marais gesê.

Die polisie het teen gister steeds die saak as ’n “gewone huisbraak” hanteer. Geen poging is nog aangewend om dié selfoon op te spoor en die aanvallers vas te trek nie.

Konst. Godin Nyathi, polisiewoordvoerder, het gesê hy weet nie wie die dossier het nie en sal eers môre kan vasstel. “Die rekenaar by die polisiekantoor sê dit was net ’n huisbraak en sê niks van ’n moord of selfone nie.”

Marais sr. is tydens die huisbraak by hul huis op die Marister-kleinhoewe naby Bapsfontein voor sy seun en ander familielede in die kop geskiet.

Die vier rowers het Marais en vier van die ander familielede se selfone, ’n skietlamp, sleutels en ’n ring gesteel.

Die vier mans het om 23:15 deur ’n venster by die voordeur ingebreek en die Marais-familie, ses mans en drie vroue, oorval en grond toe gedwing.

“Hulle het my oom (mnr. Louis Lewies) met kieries geslaan en hom in die regterbobeen geskiet.”

Die rowers het probeer om die mans in die kombuis vas te bind en die vroue na ’n ander deel van die huis te neem. “Dit is tóé dat my pa opgestaan het om hulle te keer. Die een rower het sy 9 mm-handwapen gevat en my pa in die kop geskiet. Dit het alles so vinnig gebeur. Hulle was nie eens vier minute in die huis nie, toe vlug hulle weer.”

Marais het sy pa met sy bakkie na die Arwyp-hospitaal geneem waar hy later dood verklaar is.

Die Marais’s glo die rowers se ammunisie het opgeraak.

Me. Rhoda Marais (48), Marais sr. se vrou, het gesê wat haar die meeste pla, is dat die rowers die huis so goed geken het. “Dit is alles so onwerklik. Ek het my man vir niks verloor.”

Volgens Marais was die polisie nie behulpsaam nie. “Hulle kon met my selfoon kyk waar die rowers is. Die polisie by die Crystal Park-polisiekantoor kon tot nou toe ook nie vir ons ’n saaknommer gee nie.”

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2292926,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.