Monday, 31 March 2008

Nie werkplek, huis of winkels is meer veilig

29/03/2008 18:13 - (SA)

Sonja Carstens

Pretoria

Jy is nie tuis, op die pad, by jou werk of in winkelsentrums veilig nie, want rooftogte by huise en sakeondernemings is die misdaad wat die vinnigste toeneem.

Dié wete is die hoofrede waarom duisende Suid-Afrikaners die groot trek na veilige bestemmings in die buiteland aandurf, sê dr. Johan Burger, senior navorser van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS).

Net in een van Pretoria se noordelike voorstede, Doornpoort, is daar van Januarie 21 gewapende huisrooftogte aangemeld waartydens 9 inwoners gewond is.

Burger sê woonbuurte soos Doornpoort, geleë na die kruising van die Rustenburg- en die N1-hoofweg, word vanweë hul geografiese ligging en die veldstroke wat dit omring deur misdadigers geteiken.

“In die vorige finansiële jaar het huisrooftogte landwyd met 25,4% toegeneem. Van April tot September verlede jaar het dit met nóg 7% gestyg. Rooftogte by ondernemings het in die vorige finansiële jaar met 52,5% toegeneem. Van April tot September verlede jaar het dit met nóg 29,3% toegeneem,” sê Burger.

Terwyl Rapport verlede week saam met die Tshwane-metropolisie deur die nag in Doornpoort gewerk het, was daar net vyf personeellede om die Sinoville-polisiekantoor te beman.

Dié polisiekantoor se wyk strek van die Magaliesberg tot by Wallmannstal en van die Lavenderstraat, wat die Ou Warmbadpad word, tot teen die N1-hoofweg.

Van dié vyf polisielede was ’n polisielid in die aanklagkantoor, twee polisielede in ’n patrollievoertuig en twee speurders aan diens.

Burger sê dié prentjie van onbemande polisiekantore is nie beperk tot die Sinoville-polisiekantoor nie, maar is landwyd ’n krisis.

“In 2000/2001 was daar 120 000 polisielede, van wie 20% burgerlikes was. Aan die einde van 2007 was daar 165 000 polisielede, van wie 20% burgerlikes was. Dus het die polisiemag met 45 000 toegeneem.

“Boonop is spesialiseenhede ontbind om meer polisielede en hulpbronne soos voertuie in woonbuurte te ontplooi en sigbaarheid te verbeter. Máár dit gebeur nie. Nugter weet waar al die polisielede is,” sê Burger.

Volgens hom het die polisie se begroting oor vyf jaar verdubbel. Waar die polisie misdaad in 2002 met R17 miljard moes bekamp, is hul begroting in die huidige finansiële jaar R34 miljard en word daar verwag dat dit tot R40,5 miljard in die volgende finansiële jaar sal groei.

“Die polisie is ondanks die groter begroting en personeel nie besig om hul grondwetlike plig van sigbare polisiëring doeltreffend te vervul nie. Die gevolg is dat private veiligheidsmaatskappye en inwoners dié pligte van die polisie oorneem,” sê Burger.

Burger verwys na voorstede in Johannesburg, in die ooste van Pretoria en in Montanapark waar inwoners private veiligheidsmaatskappye ten duurste aangestel het om strate te patrolleer.

“Waar inwoners nie private maatskappye kan bekostig nie, begin hulle nou self patrolleer, soos nou in Doornpoort,” sê Burger.

Hy sê polisiëring deur veiligheidsmaatskappye en inwoners hou gevare in omdat dié mense nie soos polisielede die magte het om verdagtes voor te keer, te ondervra of deur te soek nie.

“Sou ’n verdagte weier om stil te staan en met geweld aangekeer word, kan inwoners of veiligheidsmaatskappy strafregtelike aanklagte en siviele eise in die gesig staar. Die enigste wettige uitweg is dat inwoners hulle as reserviste by die polisie aansluit,” sê hy.

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2296518,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.