Monday, 31 March 2008

Oorleef Stander-skote; nie huisrooftog

'n Ou foto van mev. Marlene Henn.

Mar 30 2008 09:47:22:503PM - (SA)

Annelene Moses

’n Vrou van 65 wat 24 jaar gelede deur lede van die berugte André Stander-bende gewond is, het Vrydag in ’n rooftog gesterf toe sy en haar man deur drie gewapende mans in hul huis in Randburg oorval is.

Sy is in albei rooftogte in die bors geskiet, maar dié keer was dit noodlottig.

Volgens kapt. Julia Claassen, polisiewoordvoerder, is mev. Marlene Henn noodlottig getref toe die aanvallers skote in die huis afgevuur het. Haar man, mnr. Mike Henn, is met ’n vuurwapen aangerand.

Dit is onbekend hoe die mans omstreeks 22:10 toegang tot die erf en huis gekry het.

Nadat Henn in die bors geskiet is en haar man vasgebind en oor die kop geslaan is, het die aanvallers die sleutels van die paartjie se motor gevat.

In die proses het hulle per ongeluk die paniekknoppie op die afstandbeheer gedruk en onwetend ’n gewapende reaksie-eenheid ontbied.

Claassen het gesê die boewe het gevlug toe die veiligheidswagte hul opwagting maak.

Hulle het weggejaag in ’n silwerkleurige Mazda Etude met ’n Gautengse registrasienommer wat met die letters PVZ begin.

Die misdadigers is nog op vrye voet en klagte van moord en huisroof word deur die Randburgse polisie ondersoek.

Volgens mnr. Nick Dollman, woordvoerder van Netcare 911, het Henn op die toneel aan die wond in haar bors gesterf. Mnr. Henn is na ’n plaaslike hospitaal geneem. Hy is reeds ontslaan.

Mev. Henn is in November 1983 ook in die bors gewond toe sy verskeie kere geskiet is tydens ’n rooftog van die Stander-bende, onder leiding van die oud-polisieman André Stander. Sy was toe 41 jaar oud.

Beeld het destyds berig hoe Stander, Alan Heyl en Patrick McCall haar vuurwapenwinkel, Pot Shot Arms, in Randburg beroof het. Terwyl Henn bloeiend op die vloer gelê het, is ses vuurwapens en 2 000 rondes ammunisie gesteel.

Haar seun, Jaco, het gister gesê daar is “net te veel geskiedenis” en die familie wil nie oor die voorval praat nie.

Die familie besit steeds die wapenwinkel, maar die onderneming se naam is nou Kolskoot Potshot.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2297009,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.