Friday, 14 March 2008

Oproep op sel: 'Die oumiesies gaan sterf'

Die skietwond aan Viljoen se kakebeen. Foto: Alta Snyman

Mar 13 2008 09:19:52:297PM - (SA)

Alta Snyman

Rustenburg. – “Ek het vanmiddag baie kwaad geword,” het ’n onbekende man eergisteraand oor ’n selfoon aan mev. Petro van Rensburg gesê kort nadat haar ma en stiefpa op ’n kleinhoewe by Spruitfontein naby Rustenburg aangeval en beroof is.

Mnr. Nier (80) en mev. Mollie (83) Viljoen het pas klaar na die 19:00-nuus op televisie gekyk toe hul hondjie begin blaf het.

Een van die buitedeure was nie gesluit nie omdat hulle vroeër die hond wou laat uitgaan, maar dié wou nie uit nie omdat dit lig gereën het.

Viljoen het opgestaan om te gaan kyk waarvoor die hond blaf toe hy drie mans in die kothuisteëgekom het.

“Die mans het vuurwapens en ’n mes gehad. Ek het nie baie krag in my regterarm nie en het met my linkerhand na hulle geslaan. Die een man se vuurwapen het afgegaan en die patroon het my in die gesig getref. Ek het nie veel gevoel nie,” het mnr. Viljoen gister uit sy hospitaalbed gesê.

“My vrou het begin skree en ons het hulle gevra om te vat wat hulle wil hê, maar om ons nie seer te maak nie.”

Die mans wou weet waar die kluis is en Viljoen het hulle kamer toe geneem. “Mollie het ’n blik gas waarmee ’n mens jouself verdedig. Dit het bo-op die hangkas naby die deur gestaan. Ek het dit gegryp en na hulle geslaan. ’n Skoot het afgegaan en is in die grond vas. Ek het toe gespuit. Die mans het vreeslik begin hoes en hyg na hul asems. Ek ook, ek het ’n kussing gegryp en oor my gesig gedruk.”

Die mans het begin weghardloop en Viljoen het gehardloop om te gaan kyk wat met sy vrou aangaan.

“Die een man het geskiet en Mollie het geval. Ek het gedink sy is morsdood. Haar oë het sommer so getol. Ek het haar op ’n ou stoel in die badkamer laat sit en daar was oral bloed, so baie bloed.

“Ek het gewonder wat maak ons nou . . . Al wat die boewe gesteel het, is ons selfone.

“Ek het die karsleutels gevat, die huis gesluit en gaan hulp soek.”

Hy is na bure sowat 6 km daarvandaan. Bure het van oral gekom om te help en selfs die Marikana Goudmyn se veiligheidsafdeling het kom help.

“Die polisie was ook baie gou daar.”

Minder as ’n uur ná die aanval het ’n onbekende man vir Van Rensburg (’n buurman) en van Viljoen se kinders op hul selfone gebel. Hy het vir Viljoen se een seun gesê “die ou man wil my nie betaal nie”. Hy het glo onder meer gesê “die oumiesies gaan doodgaan”.

Kapt. Elsabe Augoustides, polisiewoordvoerder, het bevestig dat die polisie twee klagte van poging tot moord ondersoek. Mnr. Viljoen is in sy kakebeen geskiet en die koeël het mev. Viljoen in haar linkerskouer getref en in die derde nekwerwel vasgesteek. Haar toestand is ernstig, maar stabiel en sy lê in die waakeenheid van die Peglerae-hospitaal.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2287806,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.