Sunday, 9 March 2008

Polisielid gryp, klap ma glo in padwoede-geval

Ooggetuies van die beweerde padwoede-aanval op mev. Annelie Maritz (35) praat gister met die onbekende polisiekaptein wat haar na bewering aangerand het en haar man, mnr. Izak Maritz (rug na die kamera).

Marenet Jordaan

Pretoria

’n Polisieman het ’n ma gister glo voor haar dogtertjie in ’n padwoede-aanval aan die keel gegryp en geklap.

Mev. Annelie Maritz (35) van Kameeldrift buite Pretoria was gistermiddag nog in ’n geskokte toestand oor die aggressiewe gedrag van die polisiekaptein. Haar nek is vol rooi hale en haar motor is ook beskadig.

Sy en Izaan (7) was omstreeks 14:30 na die Kolonnade-winkelsentrum onderweg toe die polisieman by die kruising van die Malotopad en Zambesiweg voor haar indraai.

“Ek het vir hom vinger gewys,” vertel Maritz. Geen lelike tekens nie, beklemtoon sy egter.

“Toe plaas hy ’n blou lig op die paneelbord en skakel dit aan. Ek kon dadelik sien hy is aggressief.”

Die polisieman, wat in ’n ongemerkte voertuig gery het, het Maritz glo van die pad probeer dwing.

Skaars ’n kilometer verder het hy by ’n rooi verkeerslig agter haar stilgehou en uitgespring. Sy passasier het glo met ’n R5-geweer oor die skouer uitgeklim.

“Toe hy aangestap kom, was ek reg om vir hom te sê hy het verkeerd opgetree,” vertel Maritz. Volgens haar was sy aanvanklik nie bang nie.

Voordat sy ’n woord kon inkry, het die polisieman sy hand by haar venster ingedruk, haar sleutel uitgeruk, dit gebreek en haar daarmee gegooi. “ ’n Stuk van die sleutel het my dogtertjie getref en sy het histeries begin huil.”

Die man het glo ook Maritz se deur probeer oopruk, haar deur die venster geklap en gewurg.

Terwyl sy haar man gebel het, het hy op haar geskreeu dat dit haar nie sal help om te bel nie.

Mnr. Frans Parsons, wat voor Maritz by die verkeerslig stilgehou het, sê die polisieman het op al die omstanders geskreeu en gevloek. “Ek wou net hê die ou moet ophou om die vrou aan te rand.”

Volgens hom het die man vir hom geskreeu: “F*** off. I’m busy.” Hy het ook gedreig om Parsons in hegtenis te neem toe hy tussenbeide wou tree.

Die polisieman het uiteindelik padgegee nadat sy senior offisier opgedaag het.

Volgens Maritz het albei egter geweier om die man aan haar te identifiseer. Sy het ’n foto van hom waarmee sy ’n klag by die Kameeldrift-polisiekantoor gaan indien. Sy beoog ook ’n siviele eis.

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2284603,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.