Monday, 24 March 2008

Rowers ontvoer vrou op plaas

Mar 23 2008 09:07:36:523PM - (SA)

Hilda Fourie

Ohrigstad. – Die polisie en die plaaslike boerevereniging soek steeds onverpoos na ’n vrou wat op ’n plaas in die distrik ontvoer is.

Me. Hennielene Botha (46), die eienares van ’n lodge op ’n plaas sowat 7 km buite die dorp, is eergisteraand deur vier aanvallers in haar eie motor gelaai en ontvoer.

Mnr. Cor Cross, ’n lid van die Ohrigstad-boerevereniging, het gesê Botha is omstreeks 22:30 in haar huis oorval.

Haar man, Albert, wat saam met haar die Iketla Lodge op die plaas besit, was met gaste by die lodge besig. Die huis is sowat 100 m van die lodge.

Cross het gister gesê die aanvallers “het mev. Botha by haar motor ingeboender en hulle is weg”. “Hulle het ook onder meer weggekom met selfone, tjekboeke en bankkaarte.”

Cross het gesê geen bloed is in die huis gevind nie. Plaaswerkers het glo gesien hoe vier verdagtes met Botha wegry.

Die motor is ’n silwerkleurige Toyota Corolla (BMN 559 L).

Volgens Cross is daar kort ná die voorval met ’n intensiewe soektog na Botha begin.

Die omgewing om die lodge is gefynkam deur die polisie en lede van die plaaslike boerevereniging. ’n Polisiehelikopter het ook gisteroggend aan die soektog deelgeneem.

Cross het gesê dié soektog is gistermiddag na buurdorpe soos Burgersfort, Steelpoort en Polo- kwane (Pietersburg) uitgebrei.

“Daar is geen spoor van niks,” het Cross gesê. “Ons is ’n klein gemeenskap. As jy aan een raak, raak jy aan almal. As jy nie help nie en jy is volgende, is daar niemand om jou te help nie. Ons ry op elke pad in die omgewing om te help soek.”

Supt. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder in Limpopo, het die voorval bevestig.

Volgens Ramatseba het ’n onbekende getal verdagtes deur ’n venster toegang tot die huis gekry. “Ons soek steeds na me. Botha en sal aanhou totdat ons haar kry,” het hy gesê.

’n Saak van huisroof en ontvoering word ondersoek. Nog niemand is in hegtenis geneem nie. Die motief vir die voorval is vermoedelik roof. Ramatseba het gesê die polisie volg verskeie leidrade op.

Cross het gesê mnr. Botha is gister deur die polisie ondervra en het ’n verklaring afgelê. Hy was gister nog te geskok en getraumatiseerd om met Beeld te praat.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2292920,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.