Monday, 31 March 2008

Rowers vermoor man in huis waar hy 50 j. woon

Mnr. Johnny Johnson (85)

Mar 30 2008 09:47:35:067PM - (SA)

Nicolize van der Walt

Klerksdorp. – In dieselfde huis waar hy sy kinders grootgemaak en byna 50 jaar van sy lewe deurgebring het, is mnr. Albert Edward Johnson (85) koelbloedig vermoor.

Johnson, ’n afgetrede myner beter bekend as Johnny, is Vrydagaand in sy huis in Poppylaan, Adamayview, vermoedelik met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan. Sy lyk is Saterdag gekry.

Sy een seun het hom oudergewoonte Vrydagaand geskakel en bekommerd geraak toe Johnson nie sy telefoon antwoord nie, maar hy het aangeneem sy pa kuier by vriende.

Die moordenaars het Vrydagaand vermoedelik tussen 18:00 en 22:00 die slaapkamervenster gebreek om in die huis te kom.

“Ons vermoed my pa was in die sitkamer en het gaan ondersoek instel. Hulle het my pa, wat redelik swak sig gehad het, in die gang oorrompel. Hulle het alles omgegooi en al die kaste deurgesoek,” het mnr. Guy Johnson, een van sy ander seuns, gesê.

Kapt. Adelé Myburgh, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die rowers het daarna met Johnny Johnson se Nissan 1400-bakkie gevlug. Die bakkie is later verlate gevind.

“Ek is geskok, kwaad, hartseer… Hier is te veel haat in die land. Suid-Afrika het so baie potensiaal, maar ek voel die regering is uit voeling met hul mense,’’ het Guy Johnson gesê.

Hy het bygevoeg hy sal sy pa altyd onthou “vir die goeie waardes wat hy ons geleer het”.

Benewens Guy word Johnny Johnson oorleef deur nog twee seuns, Ian en Lindsay, en ’n dogter Jennifer, ses kleinkinders en ’n agterkleinkind.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2296950,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.