Wednesday, 19 March 2008

SA boere lewe in ’n oorlogsone, sê TLU

Mar 18 2008 06:55:34:307PM - (SA)

Virginia Keppler

‘Ons lewe in ’n oorlog-sone en dit het tyd geword dat ons ons stemme moet dik maak.”

Só het mnr. Andries Steyn (75), voorsitter van die TLU SA, gister by die landdroshof in Bronkhorstspruit, oos van Pretoria, aan Beeld gesê.

Steyn en sowat 20 lede van die TLU SA het by dié hof saamgetrek om ’n skrywe aan die senior landdros by die hof te oorhandig waarin hulle vra dat die vermeende moordenaar van mnr. Hendrick Janse Van Rensburg (82), ’n melkboer van die plaas Zusterstroom, en sy kleinseun Dean Charles Woodraffe (17), nie op borgtog vrygelaat moet word nie.

Die TLU SA het gesê hulle meen mnr. Isaac Masutu (24), die beskuldigde en ’n Mosambieker wat vir Janse van Rensburg gewerk het, hoort agter tralies.

“Die landbougemeenskap meen dat vermeende moordenaars se sogenaamde menseregte nie hoër is as dié van ’n gemeenskap waarvan daar die afgelope dekade al meer as 2 000 vermoor is nie.

“Daar moet in gedagte gehou word dat die land se boere, ook dié van dié gemeenskap, verantwoordelik is vir die voorsiening van voedsel aan die bevolking.

“Ja, selfs moordenaars en ander misdadigers eet die voedsel wat die boere produseer.

“Elke boer wat vermoor word, vergroot die moontlikheid van hongersnood in die land,” lui die verklaring.

Masutu word daarvan verdink dat hy Janse van Rensburg op 6 Maart met ’n graaf doodgeslaan het en Woodraffe verwurg het toe dié sy oupa wou help.

Hul lyke is die volgende dag meters weg van die plaashuis gevind waar dit bedek was met grasse, bosse en blare.

Masutu is dieselfde dag in hegtenis geneem.

Verskeie gesteelde goedere is ook in sy besit gevind.

Steyn, wat self onlangs ’n slagoffer van misdaad was, het gesê as hulle nie nou iets doen nie, gaan hulle uitgemoor word.

Hy en sy vrou, Catharine (70), is in sy huis deur ’n bende gewapende mans oorval.

Die rowers het sy veiligheidshek, wat die slaapkamers van die res van die huis skei, oopgebreek en wou net sy kamerdeur oopbreek toe hy met sy haelgeweer daardeur op hulle skiet.

“Ek het een se knie weggeskiet, maar die ander het weggekom,” het Steyn gesê.

Hy het mense gewaarsku om hul slaapkamerdeure te sluit en om dit nie oop te maak tydens ’n aanval nie want “dit kan jou lewe red”.

Masutu se saak is tot aanstaande maand vir verdere ondersoek uitgestel.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2290538,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.