Friday, 7 March 2008

Stilte oor 100 000 blanke slagoffers in SA


Geskryf deur Anton Barnard

Donderdag, 06 Maart 2008

Dit is met toenemende ergenis dat ek die voortdurende lawaai oor die sogenaamde Reitzhuis-walgvideo bekyk. Die reaksie op beide die Reitzhuis-voorval asook die skietery op Skielik oorskry alle perke van redelikheid en proporsionaliteit.

Omdat vier blanke studente 'n video gemaak het wat kennelik in swak smaak was, maar waaraan die sogenaamde slagoffers vrywillig deelgeneem het, geen skade gely het nie en ook geen klag gaan lê het nie, raak die linkse en liberale media totaal berserk. Die reaksie in die media oorskry alle normaliteit. 'n Voorbeeld is Christi van der Westhuizen, welbekend vir haar intense haat vir haar eie volk, wat in hierdie rubriek vra of mens die rassisme uit Afrikaners kan haal.

(Op my beurt is my vraag of mens die onnoselheid uit me. Van der Westhuizen kan haal, synde iemand wie se een, enkele gedagtetjie blyk te wees om skril en aanhoudend "rassisme" te skree vir almal wat wil luister, en haar dan te verbeel sy is 'n geloofwaardige joernalis. Moontlik moet mens simpatie met die arme siel hê, gegewe dat haar leermeester ene Max du Preez was, ook 'n intellektueel bankrotte hater van Afrikaners wie se kop bly vashaak het in 1980 en wat deesdae glad niks konstruktief het om by te dra tot enige gesprek nie.)

Om terug te keer na die oorskryding van alle perke van redelikheid: as die Skielik-skietery dan rassisme sou wees, hoeveel te meer is die bykans tweeduisend plaasmoorde dan nie rassisme nie? In die oorweldigende meerderheid van gevalle is die booswigte swart en die

slagoffers blank. In 'n groot persentasie van gevalle word die blanke slagoffers ook gemartel, soos die bejaarde egpaar van Nylstroom waarvan die vrou se vingers met 'n snoeiskêr afgeknip is. Waarom het me. Van der Westhuizen en die ander sogenaamde joernaliste nie ook hieroor kop verloor en vir weke ná die voorval histeriese krete van rassisme geuiter, hulle klere geskeur en as oor hulle hoofde gestrooi nie?

Vier mense dood by Skielik. Tweeduisend blanke boere vermoor en dikwels gemartel. 'n Onaardse geskree oor eersgenoemde, dawerende stilte oor laasgenoemde.

Een mens dood en nog een beseer tydens die Waterkloof-vier voorval, nog ʼn geval waaroor die media bykans 'n epileptiese uitbarsting van anti-blanke woede beleef het. Sedert 1994 is daar waarskynlik 30 000 of meer blankes vermoor, en meer as 70 000 blanke vrouens verkrag. Die oorweldigende meerderheid van die aanvallers was swart. Waar is die geraas oor die 100 000 blanke slagoffers van die Nuwe Suid-Afrika se epidemie van swart-op-blanke rassegeweld?

Wat die sogenaamde vernedering van die skoonmakers by die UVS aanbetref, moet ek erken ek as blanke weet hoe voel hulle, indien hulle hoegenaamd verneder gevoel het. Weer eens weet ons nie of hulle wel verneder voel oor die video nie. Hulle het immers tussen September 2007 en vandag nie self enige woord daaroor gerep aan die media of aan die owerhede nie. Waarom word daar nie onderhoude in die media met hulle gevoer nie? Wat steek die media en die universiteit se owerhede vir ons weg?

Elke dag as ek die koerante se vakatures-blaaie oopslaan, of ek beskou webwerwe soos dié en ek lees "AA only", dan voel ek verneder en soos 'n tweedeklasburger. As gevolg van my velkleur word daar teen my gediskrimineer.

Dit spreek dus van verregaande skynheiligheid en 'n growwe oordrywing om Afrikaners op grond van vier studente se gedrag almal as rassiste te etiketteer terwyl 'n swart regering elke liewe dag blatante rassisme toepas teenoor vier miljoen blankes.

Vier skoonmakers wat vrywillig deelgeneem het aan studentepret. Vier miljoen blankes wat elke dag rassisme ervaar. Waarom die stilte? Waarom is daar nie elke dag dawerende koerantopskrifte wat uitbasuin hoe rassisties die ANC-regime is nie?

Die antwoord op bostaande kan mens waarskynlik in Professor Danny Titus se onlangse rubriek in Beeld vind.

"Aan die ander kant moet ons hoor: ‘Wat onder die oppervlakte geborrel het, is opgekropte woede by wit Suid-Afrikaners dat 'n groot bohaai ontstaan telkens as wittes die uitdelers van rassisme is, maar dat ras uitgeborsel word wanneer swartes die plegers en wittes die slagoffers is.’ Laasgenoemde is darem wragtig nie die punt nie."

Overgeset synde: dit maak slegs saak as swartes rassisme ervaar. Ons wil nie hoor van die 100 000 slagoffers van rassegeweld nie, of vier miljoen daaglikse slagoffers van staatsrassisme nie, want hulle is blank.

Oorsprong:PRAAG
http://www.praag.org/mambo/index.php?option=com_content&task=view&id=1381&Itemid=37

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.