Monday, 31 March 2008

Sukkelstryd na marteling en moord op pa

Mev. Daleen Pieterse en haar drie kinders, Hennie (14), Anuschka (5) en Gideon (12), sukkel om kop bo water te hou sedert hul man en pa twintig maande gelede wreed vermoor is op hul hoewe buite Swartruggens. Foto: Doug Lee

29/03/2008 18:38 - (SA)

Marizanne Kok

Rustenburg

Die onderlippie wil-wil bewe wanneer die blouoog-meisietjie opkyk na haar ma. “In watter hospitaal is pa nou weer, mam-ma,” vra sy. “Wanneer kom hy huis toe?”

Net ’n paar sekondes gelede nog het Anuschka Pieterse (5) vertel dat haar pappa nooit weer huis toe kom nie. Maar wanneer haar ma haar daaraan herinner dat hy nou “by Liewe Jesus is”, glimlag sy net en speel verder.

Dis die verwarrende wêreld waarin sy nou grootword nadat haar pa, Frans (44), twintig maande gelede wreed gemartel en vermoor is in die gesin se huis buite Swartruggens.

Drie mans het hul voordeur die nag van 12 Julie 2006 oopgeskop en Frans, sy vrou, Daleen, en hul jongste seun, Gideon (toe 10), vier uur lank gemartel. Klein Anuschka is uit haar bed gehaal en daar is gedreig dat sy ontvoer en verkrag sou word.

Mev. Pieterse se kuit is tot op die been oopgesny (“ek was so geskok dat ek dit nie eens agtergekom het nie”), haar klere is van haar lyf gesny en ’n mes is tussen haar bene ingedruk. Daarvoor het sy nou ’n operasie nodig, maar sy het nie die geld nie.

Gesmelte plastiek is ook oor haar en Gideon gedrup.

Pieterse is in die slaapkamer met ’n skoenveter verwurg. Op sy lyf was die brandmerke van drie ketels kookwater sigbaar. Sy voorkop is oopgesny en ’n mes is in sy bors gesteek.

Die aanvallers is weg met net ’n TV-stel en ’n DVD-speler.

Die afgelope week is Kabelo Ernst Khoza (20) gevonnis tot twintig jaar tronkstraf vir die moord op Pieterse, 18 jaar elk vir die aanranding op Daleen en Gideon en 15 jaar vir huisbraak. Die vonnisse sal samelopend uitgedien word.

Maar twintig jaar is nie genoeg nie, sê mev. Pieterse. “Hy moes lewenslank gekry het. Maar dit sal ook nie my man terugbring of iets doen aan hoe ons lewe daardie aand verander is nie.”

Gideon is baie meer rebels ná die aanval, sê sy ma. Hy het nog nie gehuil oor sy pa nie, en sy vrees vir die dag dat hy ontplof.

Haar oudste, Hennie (14), was nie by die huis toe sy pa vermoor is nie. Hy verwyt hom daaroor.

Die gesin was nog nooit terug by die moordhuis nie en woon nou in Vanderbijlpark, waar mev. Pieterse die pot aan die kook probeer hou deur by ’n nasorgsentrum te help. Dit gaan finansieel baie sleg met hulle.

Vir Johan Nel, wat in Januarie in Skielik, die township buite Swartruggens, vyf mense vermoor het omdat hy glo vroeër deur swart mense aangeval is, het mev. Pieterse simpatie. Sy merk daardie gevoel van Nel ook by haar seuns op, en sy self voel so.

“Die aanval op ons was rassisties, dit het van ons rassiste gemaak. My kinders kom in die moeilikheid by die skool daaroor, en ek kan nie sonder vrees in die dorp rondloop nie.”

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2296553,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.