Friday, 14 March 2008

Twee van Zimbabwe in hof oor moord-en-plundertog

Mar 13 2008 07:28:08:027PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Louis Trichardt. – Die twee Zimbabwiërs wat ’n bekende egpaar hier glo koelbloedig vermoor het, het kort voor dié voorval glo nóg ’n man aangeval, warm pap oor hom gegooi en hom geskiet.

Mnre. Themba Chirume (20) en Liberty Marumo (18) het glo ook nog twee egpare in dieselfde omgewing beroof.

Chirume en Marumo het Woensdag weer hier in die rondgaande hof verskyn op onder meer aanklagte van moord op mnr. Clint Hayward (37) en sy vrou, Michéle (36).

Die Haywards is in Oktober 2004 in hul bed in die Mountain View-hotel buite dié dorp doodgeskiet. Hulle was die eienaars van die hotel. Die hof het eergister gehoor Chirume was voorheen ’n werknemer by die hotel en is in 2004 ontslaan. Die Hay-wards is albei in die kop geskiet en is op die toneel dood.

Die vermeende moordenaars het glo eers by ’n kantoorvenster van die hotel ingebreek voordat hulle die paar koelbloedig doodgeskiet en die huis geplunder het.

Die vermeende moordenaars het glo selfs met mev. Hayward se deodorant en ’n paar roomkleurige vroueskoene gevlug.

Die Haywards se dogter, Tamryn (16), wat ten tyde van die moord 12 jaar oud was, het op haar ouers se bebloede lyke afgekom.

Chirume en Marumo staan albei tereg op nege aanklagte, waar-onder die moord op die Hay-wards, asook poging tot moord op mnr. Pheneas Maluleke.

Die mans het Maluleke in Oktober 2004 glo op die Hangklip-berg aangerand en onder meer warm pap oor hom gegooi. Hulle het hom daarna glo drie keer geskiet. Hy het die aanval oorleef.

Hulle word ook verdink van ’n inbraak dieselfde dag as die aanval op Maluleke, by mnr. Clinton van Graan en sy vrou, Jacqueline. Hier het hulle glo onder meer ’n skootrekenaar, jasse, ’n flits en ’n haardroër gesteel.

Chirume en Marumo het ook glo in September 2004 by die gastehuis van mnr. Clinton Bayes en sy vrou, Hester, in die Bluegum-sportgebied buite dié dorp ingebreek.

Die hof het gehoor dat ’n derde Zimbabwiër, mnr. Jayson Chadhebhaglo, ook by die moorde op die Haywards betrokke was. Hy het na Zimbabwe gevlug. Die polisie het ’n aansoek vir sy uitlewering ingedien, maar geen vordering is nog gemaak nie.

Adv. Louw Pienaar, staatsaanklaer, het in die staat se slotbetoog eergister gesê die getuienis wat die hof gehoor het, dui daar-op dat Chirume en Marumo vrywillig en met deeglike beplanning aan die inbrake en moord op die Haywards deelgeneem het.

Adv. Cedric Booi, namens Chirume, het eergistermiddag in sy slotbetoog aangevoer dat Chirume nie by die moord betrokke was nie.

Die saak duur voort.

mlouw1@beeld.com

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2287817,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.