Saturday, 8 March 2008

Verdagte in arres wat vrou glo verkrag, ‘inwendig beseer’

Mar 07 2008 09:00:15:503PM - (SA)

Henry Cloete

Bloemfontein. – Die vermeende aanvaller van mev. Anna Viljoen (86), wat haar aangerand, vermoedelik verkrag en haar met ’n skerp voorwerp “inwendig beseer” het, is Woensdag in die vroeë oggendure in hegtenis geneem.

Viljoen sterk aan in die Medi-Clinic in Bloemfontein se waakeenheid nadat sy Saterdag op haar dogter en skoonseun se plaas buite Vryburg aangeval is.

Kapt. Charlize van der Linden, polisiewoordvoerder, het gesê ’n 20-jarige verdagte is op Stella in hegtenis geneem en het in die Vryburgse streekhof verskyn op aanklagte van huisbraak met die opset om te verkrag, verkragting en poging tot moord.

“Die verhoor is tot 14 Maart uitgestel vir regshulp en borgtogaansoek,” het Van der Linden gesê.

Viljoen is vermoedelik met ’n klein jagmes wat sedert die voorval uit die huis vermis word, inwendig beseer.

Mev. Suzette van Tonder, Viljoen se dogter, het gesê die ondersoekbeampte het gesê die verdagte, wat vroeër vir haar man, H.P., gewerk het, het by sy inhegtenisneming skuld beken op die aanklagte, maar het beweer dat hy “getoor” was toe hy dié dade gepleeg het.

Wat haar ma se toestand betref, het Van Tonder gesê hoewel haar ma gestabiliseer is, het die dokter hulle meegedeel dat sy “nie buite gevaar is nie”.

“Haar ouderdom tel teen haar. Omdat sy so oud is, kan enige komplikasies glo nog intree.”

Sy het gesê sy en haar man is steeds baie “verward en geskok” oor die voorval.

Hulle het gister kortstondig na die plaas vertrek om onder meer matte en gordyne wat met haar ma se bloed deurtrek is, te gaan vervang.

Volgens me. Amanda Appelgryn, hospitaalwoordvoerder, is Viljoen in ’n stabiele toestand, maar steeds aan ’n asemhalingsapparaat gekoppel.

“Hulle is egter besig om haar van die asemhalingsapparaat af te haal.”

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2284285,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.