Tuesday, 4 March 2008

Vermoor vir niks

Mnr. Vaughan Hansen by sy sleepwaentjie waarop hy gespring het om sy bure te hulp te snel. Foto: Mario van de Wall

Mar 03 2008 10:44:01:200PM - (SA)

Leané du Plessis

'n Bekende Johannesburgse argitek, sy vrou en sy seun is eergistermiddag laat by hul huis geskiet, waarna die moordenaars weg is sonder om enigiets te steel.

Mnr. Julian Lap (55) is dood, terwyl sy vrou, me. Marilyn Visser, in die Netcare Milpark-hospitaal om haar lewe veg.

Julian (16) se toestand was gisteraand stabiel.

Dit lyk of die gesin ’n rustige Sondagmiddag saam deurgebring het soos wat hul gewoonte was, het mnr. Vaughan Hansen, hul buurman, gister vertel.

Lap se sigarette en aansteker het gistermiddag laat nog op die tafeltjie langs sy stoel op die patio gelê, ’n paar skoene naby dit op die vloer. Boeke was rondgestrooi; drie koeldrankglase het op die tafel gestaan.

Maar die bloedkolle in die oprit van hul huis in Parktown-Noord het getuig van die toneel wat hom eergistermiddag hier afgespeel het toe aanvallers Lap, Visser en Julian jr. geskiet het.

Die drie is volgens Hansen vermoedelik na ’n spaarkamer geneem.

Lap is in sy bolyf en Visser in die kop geskiet, het mnr. Mark Stokoe, Netcare 911-woordvoerder, gesê.

Visser is steeds in ’n kritieke toestand in die Netcare Milpark-hospitaal, het me. Amelda Swartz, woordvoerder van dié hospitaal, gesê.

Hansen het vertel hoe hy eergistermiddag omstreeks 18:30 gille van die huis af gehoor het.

Hy het buitentoe gehardloop, op sy sleepwaentjie gespring en oor die bure se muur gespring.

Dáár het hy ’n bebloede Julian jr. in die tuin gekry.

“Julian het sy hemp opgelig en gewys hy is in die bors geskiet. Daar was verskriklik baie bloed,” het hy gesê. Hy het besluit om dadelik met die kind hospitaal toe te jaag.

Die aanvallers het vermoedelik toegang tot die huis gekry deur op ’n hoop sand op ’n bouperseel langsaan te trap en oor die muur te klim.

Die aanvallers het gevlug sonder om enigiets saam met hulle te neem, het kapt. Cynthia Magoai gesê.

Hansen het gesê Julian jr. is ’n “goeie seun”.

“Hy is ’n SA karatekampioen.”

Mnr. James Brummer, Lap se vennoot by Julian Lap James Brummer Architects and Urban Designers, het gisteraand gesê die land het ’n groot denker verloor.

“Hy het ’n meesters(graad) in stadsontwerp gehad.

“Hy sou selfs in ’n stadium sy doktersgraad in Edinburg, Skotland, doen. Julian was iemand wat nooit wou ophou verstaan het hoe die heelal werk nie. Hy en sy seun het gereeld in diepte debatte oor dié en ander onderwerpe gehad. Hy was belese, het gereeld gereis en het verskriklike fyn smaak gehad.

“Dié gebeure verander ons almal se lewens drasties,” het hy gesê.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2281541,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.