Tuesday, 11 March 2008

Vroue met kolf geslaan vir vuurwapen, erken verdagtes

Mar 10 2008 09:53:02:087PM - (SA)

Leané du Plessis

Die verdagtes wat twee bejaarde susters verlede week met ’n krieketkolf aangerand het, het dit gedoen om ’n vuurwapen in die hande te kry.

Dít het die drie verdagtes gister teenoor die polisie erken nadat hulle in die vroeë oggendure in die Eikenhof-plakkerskamp, suid van Johannesburg, in hegtenis geneem is.

Die verdagtes, onder wie die susters se 32-jarige tuinier en sy broer (25), het verlede Donderdag me. Shirley Taylor (65) en me. Gloria Smith (67) by hul huis in Rispark net buite Alberton aangeval. Hulle het die twee susters eers vasgebind en na ’n slaapkamer toe geneem voordat hulle die vroue verskeie kere met ’n krieketkolf oor die kop, nek en arms geslaan het.

Taylor het aan haar wonde beswyk, terwyl Smith steeds in die Mulbarton-hospitaal aansterk, het kapt. Johan du Toit, polisiewoordvoerder, gesê.

Die verdagtes het gister ge-sê hulle wou glo slegs die vuurwapen hê, wat in die kluis weggesluit was.

’n Klein bedrag geld, ’n selfoon en juweliersware is ook in hul besit gevind, het Du Toit gesê. ’n Speelgoedgeweer, waarmee die verdagtes vermoedelik die vroue geïntimideer het, is ook gevind.

Volgens hom het die polisie dadelik vermoed die tuinier is betrokke nadat dié kort ná die moord spoorloos verdwyn het. ’n Informant het die polisie na die Eikenhof-plakkerskamp gelei, waar die verdagtes gisteroggend omstreeks 03:30 vasgetrek is.

Die verdagtes verskyn môre in die Johannesburgse landdroshof op aanklagte van gewapende roof, poging tot moord en moord.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2285632,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.