Saturday, 8 March 2008

Vuurwapen, geld vir bejaarde vrou se lewe

Mar 07 2008 08:50:55:467PM - (SA)

Leané du Plessis

’n Bejaarde vrou is dood en haar ouer suster ernstig beseer toe twee verdagtes hulle eergistermiddag wreed in hul huis met ’n krieketkolf aangerand het.

Slegs ’n vuurwapen en ’n onbekende bedrag geld is van die toneel geneem, het kapt. Johan du Toit, polisiewoordvoerder, gister gesê.

Me. Shirley Taylor (65) en me. Gloria Smith (67) van Rispark net buite Alberton, is albei verskeie kere met die krieketkolf, wat vermoedelik aan ’n 12-jarige familielid van Smith behoort, aangerand, het kapt. Johan du Toit, polisiewoordvoerder, gesê.

Beeld het betroubaar verneem dat Taylor versmoor het. Sy is glo met ’n sak oor haar kop gevind wat só styf vasgebind was dat paramedici gesukkel het om dit los te kry.

Sy was reeds dood toe paramedici op die toneel opgedaag het, maar is eers omstreeks 21:10 deur lede van die Johannesburgse nooddienste, wat later daar was, dood verklaar.

Die twee susters het alleen op ’n kleinhoewe tussen Mondeor en Alberton gebly.

Hulle is omstreeks 17:30 deur familielede in een van die slaapkamers gekry, het Du Toit gesê. Volgens hom het die 12-jarige familielid eergistermiddag ure lank vir Smith by die skool gewag om hom te kom oplaai. Skuins ná 17:00 het ’n onderwyser van die skool hom gaan aflaai.

Hy het agtergekom iets is fout toe hy na hulle roep en geen antwoord kry nie, het Du Toit gesê.

Daarna is hy na die buurman, ook familie, se huis toe, waar die eienaar en sy seun die twee bejaardes in die slaapkamer ontdek het.

Dit is onseker presies hoe laat die voorval gebeur het, het Du Toit gesê.

“Albei die vroue is vasgebind en aangerand. Hul beserings is baíe erg; Gloria is net gelukkig dat sy die beserings oorleef het,” het Du Toit gesê.

Volgens mnr. Nick Dollman, Netcare 911-woordvoerder, is Smith se linkervoor- en bo-arm sowel as haar sleutelbeen in die aanval gebreek.

“Die aanvallers was uitsonderlik wreed. Hulle (die slagoffers) was twee oumense; daar was nie veel wat hulle kon doen om hul(self) te beskerm nie,” het hy gesê.

Smith is inderhaas deur lede van Netcare 911 na die Mulbarton-hospitaal toe gejaag, waar sy gisteraand nog in die waakeenheid was. Volgens Du Toit is sy wel in staat om te praat en kon sy vertel wat gebeur het.

Die verdagtes het vermoedelik die vuurwapen uit die susters se kluis gesteel nadat hulle die sleutels daarvan ontdek het, het Du Toit gesê.

Die familie was gister nog te geskok om oor die voorval te praat.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2284277,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.