Sunday, 23 March 2008

Vyf vry na moord wyl polisie sloer

Dr. Johan de Lange vertel van die moord op sy seun. De Lange wou nie sy gesig laat afneem nie uit vrees vir vergelding deur sy seun se moordenaars. (Foto: Lerato Maduna)

22/03/2008 21:55 - (SA)

Marizanne Kok

Sasolburg

Skaars vyf uur voor sy seun se dood het dr. Johan de Lange aan sy vrou gesê hoe bly hy is dat Pieter ’n goeie lewe het.

Toe die reën hom twee-uur daardie oggend wakker maak, het hy glimlaggend gedink hoe gelukkig sy beesboer-seun sou wees oor die nattigheid.

“Ek het nie gedink dat ek hom nooit weer lewend sou sien nie,” sê hy nou met ’n wrang glimlag. “Ons het dan gedink ons is veilig hier ...”

De Lange se verstandelik gestremde seun Pieter (27) is op 17 April 2007 vermoor toe rowers hom in die vroeë oggendure in die kop geskiet het op sy pa se hoewe buite Sasolburg.

“In sy kamer was my seun Pieter sterwend. Hy het op sy bed gelê in ’n plas bloed met ’n wond aan die agterkant van sy kop. Slym het uit sy mond geborrel.

“Dit was ’n skrikwekkende en skokkende gesig wat ek nooit sal vergeet nie,” onthou hy.

Een van die aanvallers was glo ’n werker op die hoewe en is aangekeer nadat hy ’n leuenverklikkingstoets, wat ’n private speurder opgestel het, gedop het.

Maar elf maande ná daardie grusame oggend lyk dit vir De Lange of dié man en sy vyf mede-beskuldigdes nooit sal boet nie. Hy sê hulle is almal nog vry weens foute deur die polisiebeamptes en gate in die regsproses.

De Lange beweer onbevoegde beamptes het bewysstukke gekontamineer of misgekyk. Boonop is die saak in Januarie van die rol geskrap omdat die dossier nie in die regte hof was nie en glo onvoldoende bewyse bevat het.

Daarna is die dossier teruggestuur na Sasolburg met die oog daarop om nuwe inligting in te samel, maar die afgelope week is dit teruggestuur na die eenheid teen georganiseerde misdaad in Welkom, 220 km van waar die moord plaasgevind het.

“Die ondersoekbeampte het ’n week ná die moord van Welkom gekom en aan my gesê dat daar geen vordering met die ondersoek was nie, al is die eerste verdagte toe al gearresteer,” sê De Lange.

De Lange en sy gesin het intussen weggetrek uit die moordhuis. “Dis ’n groot grafkelder,” sê hy. “Ek kyk na die kroeg en onthou waar Pieter gesit het wanneer sy boeties en sussies kom kuier het. Daar buite is die setperk wat ek vir hom laat bou het. Hy was baie lief vir gholf.”

Hy wou uit die land trek, erken De Lange, maar hy kan nie sy kinders (twee seuns van 26 en 23 en ’n dogter van 20) hier agter- laat nie. Sy vrou het ook drie dogters van tussen 18 en 26 jaar oud.

“Ek is oud, hulle kan my maar doodmaak,” sê hy uitdrukkingloos.

“Maar ek kan nie veilig in ’n ander land gaan sit terwyl enigiets hier met my kinders kan gebeur nie.”

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2292570,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.