Friday, 14 March 2008

Wrede vaarwel vir Pta-gesin

Savanah Lubbe (8) is veilig in haar pa, Chris (43), se arms nadat sy tydens 'n gewapende rooftog in haar ouerhuis 'n kleinhoewe in Hennopsrivier vasgebind is.

Mnr. Chris Lubbe (43) het ná 'n gewapende rooftog in sy huis gesê sodra sy gesin se paspoorte gereed is, vertrek hulle onmiddellik na Australië.

Mar 13 2008 09:19:35:500PM - (SA)

Virginia Keppler

Twee dae nadat ’n gesin van Pretoria hul visums gekry het om Suid-Afrika weens die misdaad hier vir Australië te verruil, het vyf rowers hulle in hul huis aangehou, met strykysters gebrand en gedreig om die vrou voor haar man en kinders te verkrag.

In dié gru-drama, wat langer as twee uur geduur het, is mev. Rachelle Lubbe (41) van ’n kleinhoewe in Hennopsrivier eergister met ’n warm strykyster op haar linkerbors, -arm en -skouer gebrand.

Die rowers het daarna haar broek afgetrek en haar met die strykyster op die linkerboud gebrand.

Mnr. Chris Lubbe (43), ’n meganiese ingenieur, is herhaaldelik met ’n warm strykyster op sy rug gebrand.

Die egpaar se kinders, Damian (16), die 13-jarige tweelingseuns, Shelden en Cameron, en Savanah (8), is ook aangerand en Damian is in die gesig geskop.

Gedurende hul skrikbewind het die rowers die gesin se kos geëet en hul bier en melk gedrink.

“Ons het besluit om te emigreer as gevolg van misdaad. Nou het dit met ons ook gebeur terwyl die res van die land sit en wag op hul beurt,” het mev. Lubbe gesê.

Haar man het gesê sodra hulle hul paspoorte kry, is hulle op die eerste vliegtuig landuit.

Die rowers het om 23:00 by die tweeling se slaapkamervenster ingebreek en die seuns met vuurwapens onder die ken na die sitkamer laat marsjeer.

Damian en sy pa is in die sitkamer oorval.

Mev. Lubbe het gaan ondersoek instel toe sy iets gehoor het. Sy het haar in ’n gewapende rower vasgeloop.

“Sy oë was vol haat,” het sy gesê.

Die rowers het die gesin in die sitkamer aangehou en vasgebind.

“Hulle het gedink ons het sakke vol geld in die huis en het ons met die strykyster gebrand sodat ons vir hulle die geld kan gee, maar ons het nie geld in die huis nie.

“Toe hulle my broek aftrek, het die tweeling geskreeu: ‘Nee, Ma!’, maar ek het vir hulle gesê hulle moenie worrie nie, dis oukei.

“Ek het die kluis vir hulle (die rowers) oopgemaak en hulle het onder meer vuurwapens, juwele, my trouring en R600 uit my beursie gevat. Hulle het ook Shelden se R200 gesteel wat hy gespaar het.”

Die rowers het mnr. Lubbe in ’n stadium na sy slaapkamer geneem.

’n Skoot het afgegaan, maar hy is nie getref nie. Gedurende dié gebeure het Cameron gesê: “Mamma, kom ons bid.” Toe het een van die rowers gesê: “Bid, bid, want ek gaan nou jou pa skiet.”

Savanah het vir die rowers gesê: “As julle nie my ouers skiet nie, gaan hulle vir julle geld by ’n kitsbank trek.”

Voordat die rowers met die gesin se bakkie en goedere van duisende rande gevlug het, het een glo probeer om mnr. Lubbe op te hang.

“Die een het die tou om Chris se nek gesit en dit styf getrek. Die ander een het dit weer losgemaak en vir sy makker gesê: ‘Kom ons loop net’,” het mev. Lubbe gesê.

Een van die rowers het ook herhaaldelik aan mnr. Lubbe gesê: “Ek’s jammer, ek’s jammer.”

Nadat die rowers gevlug het, het die gesin hulle losgewikkel en by die bure gaan hulp soek.

Kapt. Patricia Simelane, polisiewoordvoerder, het gesê die gesteelde bakkie is gister in Diepsloot, suidwes van Pretoria, gekry.

“Dit is jammer dat ons met soveel slegte herinneringe en letsels die land moet verlaat.” het mev. Lubbe gesê.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2287878,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.