Sunday, 6 April 2008

Angsnag toe ma langs haar seun verkrag word

Andries Ludik en sy vrou, Margot is deur drie rowers aangeval. (Foto: Lisa Hnatowicz)

05/04/2008 20:14 - (SA)

Gavin Prins

Pretoria

Saterdag was hulle by ’n emigrasie-ekspo. Maandag is me. Margot Ludik (35) deur huisrowers verkrag. Haar sesjarige seun het langs haar op die bed gelê terwyl dit gebeur het.

Al wat sy kon doen, was om vir hom te sê: “Lê stil. Maak of jy slaap.”

Haar man, Andries, ’n prokureur van bekendes soos Leon Schuster, Sonette Bridges en Louis van Wyk, en hul vyfjarige dogter, was die hele tyd vasgebind in die badkamer van hul huis op ’n spoglandgoed in Kameelfontein, Pretoria.

“Ons wil die einde van die maand uit die land uit wees,” sê Andries vasbeslote.

Hy het reeds begin om sy sake aan sy vennote oor te gee.

Hulle trek Australië toe. Die immigrasie-agentskap gaan hul aansoek bespoedig.

Intussen het hulle nog nie weer kans gesien om terug te gaan na die huis waar hulle Maandagnag deur hel is nie.

“Ek het net een raad vir slagoffers van misdaad in dié land: pak en loop so gou as moontlik.

“Seuns urineer in mense se kos en dit kry aandag regoor die wêreld. Ons word aangeval en dit word in die statistiekeboeke aangeteken. Suid-Afrika is die enigste land waar ons wette skep om die meerderheid teen die minderheid te beskerm.”

Margot kon die afgelope week nie ophou huil nie terwyl sy oor haar angsnag gepraat het.

Nadat die rowers die gesin verdeel het – pa en dogter in die badkamer, ma en seun op die bed – het sy gehoop, geglo hulle gaan haar nie seermaak nie.

Maar toe kom een van die rowers terug.

“Hy het sy hand op my bene gesit en gesê ek moet oopmaak. Ek kon nie, want my bene was vasgebind. Toe klim hy in elk geval op my.

“Gelukkig was alles gou verby.”

Die rowers het hulle om middernag wakker gemaak.

Hulle het geld en wapens gevra. Hulle het gesê hulle gaan die Ludiks doodmaak, die kinders seermaak. Aanhoudend.

“Elke minuut het gevoel of die koeël my nou gaan tref,” sê Andries.

Die rowers was meer as twee uur in die huis.

Andries het homself losgewikkel.

“Ek moet by ’n hospitaal uitkom. Ek is verkrag,” het Margot gesê.

Die seuntjie weet gelukkig nie sy ma is verkrag nie, of só meen die sielkundige.

Die Ludiks se bure is in Desember in hul huis beroof.

Dieselfde bende wat hulle Maandagaand aangeval het, het vermoedelik eergister weer in Pretoria toegeslaan – op ’n gesin in ’n naburige woonbuurt.

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2300770,00.html

4 comments:

Anonymous said...

Pierre, dit is vir my hartseer hoe 'n buitelander soos jy met soveel venyn oor SA skryf. 'n Vinnige Google search wys duidelik wie jy is, want op al die blogs waar jy pos het jy 'n vreeslike eensydige uitkyk. Jy is ook nie eens self verantwoordelik vir jou inhoud nie, jy copy & paste net baie selektief ander mense verhale! Hoe kan jy in elk geval oorspronklik wees - jy bly dan nie eens in ZA nie (jou naam is op baie blogs gelys as New Zealand, Texas, ens.)?
In die anglo-boere oorlog was ouens soos jy "hensoppers" en "hanskakies" genoem. Wel, nie regtig nie - daar was toe ook nie 'n naam vir mense soos jy wat weghardloop en dan modder gooi nie!
Kom bly weer hier, dan gaan ons jou dalk enrnstiger opneem... Beste groete van 'n ware Suid Afrikaner, Christo

Anonymous said...

Ek het hierdie artikel gister gelees en het al my finesse in sekondes verloor want ek kon die frustrasie, die rou kwaad, die hartseer, meegevoel en 'n miljuisend ander emosies net in 'n paar onvroulike vloeke woorde opsom. Ek sit self nou in NZ en ek wonder oor mense se opinies van ons wat weg is. Ek is maar hier van Januarie. Maak dit my 'n lafaard,'n vlugteling of moes ek ook gewag het dat een van my klein dogtertjies iets oorgekom het voor ek 'n regmatige rede kon he om weg te kom. Andre Mostert (polisieman en familie en skoolvriend van my) is November in 'n winkelsentrum (Pavilion, Durban) 7 keer geskiet (rooftog), my vriendin se baba (18 maande) vasgevang in die Kolonade tydens 'n rooftog, ander vriendin en haar seun selle storie,vasgevang in 'n sentrum, trasito rooftog. Ek is siek, naar, hartseer, kwaad vir al die seer, haat, VREES en geweld maar steeds bly ek trots Suid Afrikaans. Net nie meer in SA nie,... want ek moes kies, my kinders of my trots...

Anonymous said...

?

Anonymous said...

Kom ek sê vir julle hoe gelukkig ek en my gesin is in Europa. Ons moes wel ´n ander taal leer maar ons het die moeilikste besluit van ons lewens deurgevoer en geslaag soos regte Suid-Afrikaners. Ons het ook ons kinders se veiligheid eerste prioriteit gemaak en pluk die vrugte daarvan. so as daar iemand is wat wil immigrier sal ek al te bly wees om al die informasie te gee wat julle nodig het daarvoor. eishtshabalala@yahoo.com