Friday, 11 April 2008

Egpaar takel rower, sluit hom toe in badkamer

Mev. Kotie Mostert (62) wat deur 'n inbreker met die vuiste toegetakel is. Sy en haar man, Dirk (ook 62) het die man self oorrompel en in hul badkamer toegesluit.

Apr 10 2008 10:22:11:130PM - (SA)

Aletta Otto

Middelburg. – ’n Egpaar van Balfour was net een te veel vir ’n rower wat hulle Maandag in die vroeë oggendure aangeval het.

Mnr. Dirk Mostert (62) en sy vrou, Kotie (62), het self hul aanvaller oorrompel en in hul badkamer toegesluit.

Die egpaar het omstreeks 02:00 wakker geskrik toe die alarm afgegaan het. “Ek het dit afgeskakel, maar dit het weer aangegaan. Ek het in die sitkamer ingegaan en Kotie in die kombuis. Sy het ’n man in die kombuis teëgekom. Sy het geskreeu en ek het dadelik na haar toe gehardloop,” het mnr. Mostert vertel.

Die man het aan die egpaar gesê dat hy “kos soek”.

Mnr. Mostert het geantwoord dat hy nie vir hom kos het nie.

“Hy het gesê dat hy ons met ’n mes gaan steek. Ons kon sien dat hy nie ’n mes by hom het nie en het besluit om hom eerder aan te vat voordat hy een in die hande kry. Ek en Kotie het hom getackle en daar was ’n stoeiery.”

Die aanvaller het daarin geslaag om hom los te woel en het uit die kombuis verdwyn.

Die egpaar het na hul slaapkamer gehardloop om die polisie te bel, maar daar was geen antwoord by die polisiekantoor nie.

“My vrou het in die aantrekkamer gegaan om vir haar ’n warm dingetjie te gaan haal. Die volgende oomblik het die man daar uitgehardloop en vir Kotie met sy vuiste in haar gesig geslaan. Hy het haar neus gebreek en haar lippe stukkend geslaan.

“Ons was so oorbluf, maar toe ek mooi besef wat aangaan, het ek nader gehardloop en hom toegetakel,” het mnr. Mostert gesê.

Die aanvaller het sy balans verloor en mnr. Mostert het hom hard die badkamer binne gestamp en die deur toegeruk.

Die egpaar het wéér die polisie gebel en steeds het niemand die telefoon geantwoord nie. Mev. Mostert het toe maar na die polisiekantoor in Balfour gery.

Daar wou die polisie volgens Mostert eers hê dat sy ’n verklaring aflê. Mev. Mostert het verduidelik die aanvaller is nog in hul huis. Die lede aan diens het na die Mostert-egpaar se huis gegaan en die man gearresteer.

Mnr. Doctor Mofokeng (24) het gister in die landdroshof hier verskyn op aanklagte van huisbraak met die opset om te steel, diefstal en aanranding.

Supt. Malcolm Mokomene, polisiewoordvoerder, het gesê daar is tans ’n probleem met die telefoonlyne as gevolg van kragonderbrekings.

“Ons kan ongelukkig niks daaraan doen nie.”

Hy raai mense van veral die Balfour-, Tweefontein-, Siyabuswa- en KwaMhlanga-omgewing aan om ’n selfoonnommer van ’n lid van die onderskeie polisiekantore te kry vir noodgevalle.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2303908,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.