Friday, 11 April 2008

Estée: verdagte emosieloos in hof

Mnr. Aaron Mashishi word deur lede van die polisie by die selle van die Pretoriase landdroshof uitgelei. Hy het verskyn op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede nadat hy glo Estée van Rensburg (19) van Faerie Glen, Pretoria, vermoor en beroof het. Foto: Herman Verwey

Apr 10 2008 10:22:15:097PM - (SA)

Hilda Fourie

’n Maand nadat die danseres, me. Estée van Rensburg (19), vermoor en haar moordenaar vasgetrek is, gaan dié saak na die Pretoriase hooggeregshof oorgeplaas word.

Mnr. Aaron Mashishi (25), ’n veiligheidswag wat voorheen by die veiligheidsmaatskappy gewerk het wat die Van Rensburgs betaal het om hulle te beskerm, het gister in die Pretoriase landdroshof verskyn op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede.

Mnr. Lucas Choma, staatsaanklaer, het gister, voordat Mashishi in die hof verskyn het, gesê dit is die eerste keer in sy loopbaan wat ’n moordsaak binne ’n maand ondersoek is en die saak gereed is om na die hooggeregshof te gaan.

Mashishi van Mamelodi in die ooste van Pretoria word daarvan beskuldig dat hy Van Rensburg op 25 Maart in haar ouerhuis in Faerie Glen, in die ooste van Pretoria, vermoor en beroof het.

Mashishi, wat geklee was in ’n geel T-hemp, ’n blou baadjie en ’n bruin langbroek, het emosieloos in die beskuldigdebank gestaan en luister hoe sy saak tot 25 April uitgestel is.

Mnr. Samuel Mogoaneng, Mashishi se regsverteenwoordiger, het gesê hulle sal ’n borgtogaansoek bring wanneer die saak na die Pretoriase hooggeregshof oorgeplaas word.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2303902,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.