Monday, 7 April 2008

‘In dié stadium is daar geen toekoms vir wittes in SA’

Apr 06 2008 06:20:56:370PM - (SA)

Hilda Fourie

“Die misdadigers het Suid-Afrika klaar oorgeneem. Daar is geen toekoms meer vir ons hier nie.”

Só het mnr. Andries Ludik (38), ’n prokureur van bekendes soos Leon Schuster, Sunette Bridges en Louis van Wyk, gesê nadat sy vrou, Margot (35), ’n week gelede voor haar sesjarige seuntjie deur huisrowers verkrag is.

“Gaan ry deur die woonbuurte. Kyk hoe lyk dit,” het Ludik gister gesê.

“Oral is hoë mure en heinings.

“Ek het van Moreletapark (in die ooste van Pretoria) na Pebble Rock (’n veiligheidskompleks in Leeufontein, noordoos van Pretoria) getrek nadat ek in die middel van die nag ’n man in my huis gekry het.

“Ek het al die geld wat ek het, gebruik om die lewe vir my kinders veilig te maak. Dit het steeds nie gehelp nie, want toe gebeur dít.

“Daar word ’n bohaai opgeskop oor wit mans wat glo in swart mense se kos urineer, maar wanneer wit mense ure lank deur swart mense geterroriseer word, word daar niks van gemaak nie. Dan gaan dit nie oor wit of swart nie. Dit is net diefstal,” het Ludik gesê.

Volgens hom is nie net die misdaad nie, maar ook die feit dat dit so moeilik vir wit mans is om werk te kry, wat hulle uit Suid-Afrika dryf om hul heil in ’n ander land te soek.

Die Ludiks trek “so gou as wat ek kan” Australië toe.

Ludik het gesê die swart ekonomiese bemagtiging (SEB)-wetgewing in Suid-Afrika beskerm die meerderheid mense in die land teen die minderheid.

Volgens Ludik word soortgelyke wetgewing oorsee gebruik om die minderheid mense te bevoordeel, maar nie in Suid-Afrika nie.

“In Suid-Afrika is die swart mense by verre die meerderheid.

“Dié SEB-wetgewing verseker dat wit mense nêrens in dié land kan kom nie. Dit verbied ons basies om te werk.

“Vir my om te werk, moet ek swart wees. Dít is belaglik.

“In dié stadium is daar geen toekoms vir wit mense in Suid-Afrika nie.

“Ek sweer ek is nie ’n rassis met ’n snor en ’n perd nie. Ek het self ANC-saamtrekke bygewoon. Dit gaan hier oor die werklikheid. Ons woon in ’n land waar die regering nie ons veiligheid kan waarborg nie,” het Ludik gesê.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2301014,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.