Thursday, 10 April 2008

‘Mal honde’ nie haatspraak

Tony Ehrenreich. Foto: Rapport

Apr 09 2008 11:01:52:117PM - (SA)

Sanri van Wyk

Die omstrede uitlating waarin boere met mal honde vergelyk is, en gesê is hulle moet gem**r word as hulle nie wil luister nie, is volgens die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) nie haatspraak nie.

Mnr. Tony Ehrenreich, Wes-Kaapse leier van Cosatu, het dié uitlatings sowat twee jaar gelede in Rawsonville in dié provinsie gemaak.

Hy het destyds ’n byeenkoms toegespreek nadat ’n 22-jarige plaaswerker beweer het ’n boer in die omgewing het haar verkrag en ’n 16-jarige seun ernstig aangerand.

Ehrenreich het onder meer op die byeenkoms gesê: “Ons is vandag hier om oorlog te verklaar. Ons is teen geweld gekant, maar as dit is wat dit vat om slegte boere in die regte rigting te dryf, sal ons hulle m**r.

“As boere aanhou om soos mal honde die regte van ons plaaswerkers te skend, moet ons hulle slaan – al is dit die laaste uitweg.

“Hulle sal k*k as hulle nie ophou nie. Daar is reeds bloed op die plaaswerkers. As dit nie ophou nie, sal daar bloed op die boere ook wees.”

Kollapen het eergister sy bevinding bekend gemaak: dat die stellings wel nie haatspraak is nie, maar nie wenslik is binne ’n demokrasie wat op menswaardigheid, gelykheid en vryheid gegrond is nie.

Ehrenreich het gistermiddag aan Beeld gesê hy stem saam met die MRK dat sy stellings nie haatspraak was nie.

“Dit was juis stellings teen haat wat tot baie praktyke op plase lei. Ek erken dat daar baie goeie boere is, maar ek moet die lig werp op die brutaliteit wat steeds op baie plase aan die gang is,” het hy gesê.

Mnr. André Botha, voorsitter van die wet-en-ordekomitee van Agri Sa, sê Kollapen se uitspraak skep die indruk dat boere nie deur die Grondwet beskerm word nie.

Hy verwys na Kollapen as ’n “onbekwame individu wat die MRK – wat ’n goeie stelsel is wat kan werk – diskrediteer”.

Oor Ehrenreich sê hy: “As jy die leier van ’n organisasie wil wees, moet jy verantwoordelike uitsprake maak.

“Hy moet homself afvra of hy hom met dié uitspraak nie verlaag het tot die vlak van slegte boere waarvan hy praat nie.”

Botha sê Agri SA veroordeel wandade teen enige Suid-Afrikaner met die minagting wat dit verdien.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2303081,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.