Saturday, 19 April 2008

Man ernstig ná padvalke glo skiet

Mnr. James-Thomas Geldart (20) gister in die Glynnwood-hospitaal nadat hy glo twee keer deur die Ekurhuleni-metropolisie geskiet is. By hom is sy ouers, James sr. en Amanda en en kleinsus Petri (15). Foto: Alan Murdoch

Apr 18 2008 08:38:04:820PM - (SA)

Gloria Edwards

’n Topmuurbalspeler van Benoni is in ’n ernstige toestand in ’n hospitaal nadat hy gister glo deur die Ekurhuleni-metropolisie in die geslagsdele en skouer geskiet is.

Mnr. James-Thomas Geldart (20), ’n muurbalafrigter wat ook vir die Benoni Country Club se eerste span speel, is in ’n ernstige toestand in die Glynnwood-hospitaal se hoësorgeenheid nadat hy omstreeks 12:30 gisteroggend naby sy ouerhuis in Rynfield geskiet is.

Volgens sy pa, James, was Geldart jr. op pad na sy ouerhuis van Springs af waar hy aan ’n muurbal-ligawedstryd deelgeneem het toe metropolisielede, glo in twee ongemerkte motors, hom op die N12-hoofweg begin agtervolg en “op hom begin skiet het”.

Geldart jr. het na sy ouerhuis gejaag en ’n veiligheidsmaatskappy gebel, wat volgens Geldart sr. “oor die foon kon hoor hoe daar op hom geskiet word”.

Skaars ’n blok van die huis af het Geldart jr., vermoedelik reeds gewond, in Rennieweg beheer oor sy Golf-motor verloor, waarna dit in ’n muur vasgejaag het.

Sy ma, Amanda, het wakker geskrik toe sy skote hoor en die huisalarm gedruk. “Ek het skaars die noodknoppie gedruk, toe hou CMS (-sekuriteit) by ons huis stil en vra waar die kaping is,” het sy gesê. Geldart sr. is saam met veiligheidsbeamptes na die toneel, waar paramedici sy seun behandel het.

“Hy was vol bloed. Hy het net gesê: ‘Pa, ek het gedink ek word gekaap, want hulle het op my geskiet’.” Die gesin is onlangs deur gewapende rowers in hul huis aangehou en Geldart jr. is sowat ’n jaar gelede gekaap.

Geldart jr. het ook ’n besering aan sy gesig opgedoen. “Die dokters is nog nie seker of dit ’n skietwond is en of dit as gevolg van die ongeluk is nie,” het mev. Geldart gesê.

Geldart sr. het gesê hulle sukkel om sin te maak van die voorval.

“Hy is nog net ’n kind. Hy’t ’n blink toekoms voor hom. Hy was hoofseun van die Hoërskool Brandwag en is onder die toptien in die land in muurbal. Hy is ook nog in sy derde jaar van ’n B.Com-finansiële bestuur deur Unisa.”

“Ons weet nie hoekom hulle op hom sou skiet nie, maar ons het gehoor die metropolisie was besig met ’n OTM-misdaadbekampingsprojek in Springs, so hulle kon hom dalk vir ’n verdagte aangesien het. Ons weet nie,” het hy gesê.

Volgens kapt. Julia Claasen, polisiewoordvoerder, het die metropolisie Geldart jr. agtervolg omdat hy glo oor ’n rooi verkeerslig gery het.

“ ’n Saak van poging tot moord word ondersoek,” het sy gesê.

Hoofsupt. Wilfred Kgasago, metropolisiewoordvoerder, het bevestig dat daar “ ’n skietvoorval was waarby metropolisielede betrokke was”.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2308619,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.