Thursday, 24 April 2008

Man jaag rowers met besem by huis uit nadat hy, hond getref is

Luca Foto: Herman Verwey

Apr 23 2008 10:18:07:760PM - (SA)

Virginia Keppler

’n Man van Lyttelton in Centurion het gister twee rowers met sy kaal hande toegetakel en met ’n besem by sy kombuisdeur uitgeboender.

Terwyl die skote geklap het, het mnr. Julian van der Westhuizen (29) aangehou baklei om die rowers van sy vriendin af weg te hou.

In die skietery is hy en Luca, sy hond, gewond.

Luca het ten spyte van haar skietwond die rowers van haar baas probeer verwilder.

Van der Westhuizen is in die lies geskiet en Luca is skrams in die keel getref.

Van der Westhuizen is kort daarna deur Netcare 911 na die Unitas-hospitaal geneem waar hy gister geopereer is.

Luca is deur Animal Ambulance Services na ’n dierehospitaal in Pierre van Ryneveld geneem vir behandeling.

Van der Westhuizen en sy vriendin, me. Lana Steynberg, het geslaap toe rowers die kombuisdeur oopgebreek het.

Mnr. Pieter van der Westhuizen, Julian se broer, het gister gesê ’n rower het ’n vuurwapen gehad en die ander een het ’n flitslig vasgehou.

“Luca het begin grom en blaf en toe word my boetie wakker. Hy het die flits se lig gesien en besef daar is mense in die huis,” het Pieter gesê.

Volgens hom het sy broer opgespring en op die rower met die flitslig afgestorm. Hy het hom geslaan en in ’n kamer gedruk.

“Toe storm hy op die tweede rower met die vuurwapen af, maar dié het hom geskiet. My boetie het steeds aangehou baklei.”

Pieter het gesê vier skote het afgegaan. “Albei rowers het Julian aangevat, maar hy het met hulle in die gang af baklei om hulle weg te hou van sy kamer, waar Lana weggekruip het.”

Volgens Pieter het die gewapende rower die wapen probeer laai om weer te skiet, maar die wapen het blykbaar geweier.

“Julian het hulle tot in die kombuis geslaan. In die kombuis het hy ’n besem gegryp en hulle toe daarmee begin slaan.

“Hy het hulle met die besem by die kombuisdeur uitgeslaan waarna hulle weggehardloop het,” het Pieter gesê.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2311267,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.