Saturday, 12 April 2008

‘Ons verlaat SA want ons het reg op lewe’

Mev. Mari Lubbe (66) het gister op die O.R. Tambo-lughawe gehuil toe sy moes afskeid neem van haar kinders en kleinkinders wat na Australie; emigreer. Foto: Theana Calitz

Apr 11 2008 08:59:57:840PM - (SA)

Virginia Keppler

‘Ons het ’n reg om te leef, daarom verlaat ons Suid-Afrika.”

Só het mev. Rachelle Lubbe (41) gister by die O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park, oos van Johannesburg, gesê.

Sy, haar man, Chris (43), en hul kinders, Damian (16), die tweelingseuns Shelden en Cameron (13), en Savanah (8), het gister sak en pak en met net ’n eenrigtingkaartjie op ’n vliegtuig na Australië geklim.

“Ek weet egter dat wanneer ons in Australië land, sal daar talle mense in Suid-Afrika wees wat pas geskiet en vermoor is,” het sy gesê.

Dié gesin is verlede maand, twee dae nadat hulle hul visums gekry het om Suid-Afrika weens die misdaad hier vir Australië te verruil, deur vyf rowers in hul huis in Hennopsrivier, Pretoria, aangehou en met strykysters gebrand. Die rowers het ook gedreig om mev. Lubbe voor haar man en kinders te verkrag.

In dié gru-drama, wat langer as twee uur geduur het, is sy met ’n warm strykyster op haar linkerbors, -arm en -skouer gebrand.

Die rowers het daarna haar broek afgetrek en haar met die strykyster op die linkerboud gebrand.

Mnr. Lubbe, ’n meganiese ingenieur, is herhaaldelik met ’n warm strykyster op sy rug gebrand. Sy kinders is ook aangerand en Damian is in die gesig geskop.

Mnr. en mev. Lubbe het intussen volkome van hulle beserings herstel.

“Australië is vir ons ’n nuwe begin. Die ergste is om ons familie en vriende agter te laat,” het mnr. Lubbe gesê.

Savanah het gesê sy is baie hartseer om haar familie agter te laat, maar sy gaan nou baie veiliger voel. Haar broers was ook baie opgewonde.

Dit was egter mnr. Lubbe se ma, Mari (66), wat die hartseerste gehuil het.

“Dit is vir ’n ma baie seer, maar dit is die beste ding vir hulle om te doen ná daardie verskriklike terroriste-aanval op hulle.

“Dit is ook tragies dat my seun met sy vaardigheid as meganiese ingenieur die land moet verlaat,” het sy huilend gesê.

Mnr. Lubbe het gesê ná Beeld se eerste artikel het talle mense in Australië hom gekontak en hy sien uit daarna om hulle te ontmoet. “Ek wil ook net dankie sê vir almal se ondersteuning ná die aanval op ons.”

Hy het gesê van al die dinge in die land gaan hy die wildlewe die meeste mis.

“Maar vir eers is dit vaarwel Suid-Afrika,” het hy met ’n skewe glimlag gesê.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2304497,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.