Wednesday, 16 April 2008

Pa pak rowers met kaal hande

Mnr. Jannie Fourie in die Pretoria-Oos-hospitaal. Hy is sewe keer geskiet. Foto: Cornél van Heerden

7 KOEËLS KEER HOM NIE. Mnr. Jannie Fourie se gesin, vir wie hy byna sy lewe opgeoffer het: Sy vrou, Bernice, en kinders, Keanan (15 maande, links) en Brandon (3). Foto: Cornél van Heerden


Apr 15 2008 09:26:56:357PM - (SA)

Virginia Keppler

’n Pa van die Mooikloof-veiligheidskompleks, oos van Pretoria, is gisteroggend vroeg sewe keer geskiet terwyl hy twee gewapende rowers met sy kaal hande toegetakel het om hulle van sy seuns se kamers af weg te hou.

Mnr. Jannie Fourie (39) het, nadat die rowers sy regterhand se middelvinger afgeskiet én hom in die skouer, knieë, hand en arm gewond het, in sy een seuntjie, Keanan (1), se slaapkamerdeur neergeval in ’n laaste poging om hom te beskerm.

“Die een rower wou my daar op die vloer teregstel, maar ek het my gedraai en toe skiet hy my in die maag,” het Fourie gister vanuit sy bed in die waaksaal van die Pretoria-Oos-hospitaal gesê.

Sy vrou, Bernice (39), het hul ander seun, Brandon (2), probeer beskerm deur sy kamerdeur toe te druk terwyl die rowers deur die deur op haar geskiet het.

Een van die rowers het ook by Fourie se skoonma, mev. Hester Kok (68), se kamer ingegaan en haar probeer oorrompel.

“Maar sy het die een rower met haar bedlampie oor die kop geslaan en hom uit haar kamer geboender,” het Fourie vertel.

Mev. Fourie het vroeër die aand by Brandon gaan inkruip en hom aan die slaap gesus en toe self daar aan die slaap geraak.

“Ek het wakker geskrik toe ek iets soos ’n sleutel by die gangdeur, wat die res van die kamers van die huis afskei, gehoor het,” het sy gesê. Dit was omstreeks 02:00.

Sy het ’n kraakgeluid gehoor en opgespring. “Toe ek die kind se kamerdeur oopmaak, toe staan ’n man voor my en rig ’n wapen op my. Daar was nog ’n man en hy het begin skreeu. Ek het ook hard begin skreeu en toe klap ek die deur toe.

“Hulle het die deur probeer oopstoot, maar ek het dit van binne af toegestoot terwyl ek aanhoudend geskreeu het. Ek het op my hurke gesak en toe skiet hulle op my deur die kamerdeur.”

Sy het ’n vleiswond in haar regterelmboog opgedoen. Toe sy besef die rowers probeer nie meer die deur oopdruk nie, het sy Brandon gegryp en in die hangkas weggekruip.

Fourie het opgespring toe hy sy vrou se gille hoor.

“Toe ek in die gang kom, het ek twee silhoeëtte onder in die gang sien staan en toe klap die eerste skote.

“Toe is ek op die eerste ou en ek het hom aanhou slaan. In ’n stadium het ek sy rewolwer se loop vasgegryp en probeer keer dat hy my in die kop skiet en toe skiet hy my regterhand se middelvinger af, maar toe slaan ek hom steeds.

“Ek dink ek het die eerste ou gedrop. Toe die ander ou in my seun (Keanan) se kamer wou gaan, toe gryp ek hom en slaan hom.”

Fourie sê dié rower het ook met sy wapen op hom losgebrand. In dié stadium het hulle hom al vier keer raak geskiet. Ek het aanhou baklei, maar toe skiet hulle my in die knieë en toe val ek in my seun se kamerdeur.”

Die rowers het daarna op die vlug geslaan met net ’n beursie en ’n selfoon.

Kapt. Phillip Lekoantsane, polisiewoordvoerder, het gesê die rowers het met ’n 9 mm-pistool en ’n rewolwer op die gesin geskiet.

Mnr. Nick Dollman, woordvoerder van Netcare 911-nooddienste, het gesê hulle het Fourie behandel voordat hulle hom na die hospitaal gebring het.

Volgens Fourie het hy baie pyn, “maar ek leef darem nog”.

Fourie se broer, Anton, sê die rowers het die kombuisdeur en die gang se deur op ’n manier oopgemaak sonder om dit te breek.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2306496,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.