Saturday, 12 April 2008

Parapleeg se wiele gesteel, teruggekry

Me. Ansu du Preez, wat verlam gelaat is nadat sy agt jaar gelede deur gewapende rowers geskiet is, praat oor haar aangepaste motor wat gesteel en weer teruggevind is. Foto: Cornél van Heerden

Apr 11 2008 08:59:52:183PM - (SA)

Hilda Fourie

“Die misdadigers het my ma in wiele gesit en toe vat hulle sommer haar wiele ook.”

Só het me. Naranda du Preez (25) gesê oor haar ma, me. Ansu du Preez (48), wie se motor wat vir ’n parapleeg aangepas is, twee weke gelede gesteel is.

Du Preez is agt jaar gelede deur gewapende rowers in haar huis geskiet en is verlam gelaat.

Me. Ansu du Preez het gister in haar huis in Eko Park, Centurion, gesê haar aangepaste silwer Chrysler Neon se sleutels is gesteel terwyl sy in ’n winkel in Lyttelton was.

Die sleutels was tussen haar bobeen en die rolstoel ingedruk. “Ek het nie gevoel in my bene nie,dus het ek nie agtergekom toe my sleutels gesteel word nie. Toe ek weer sien, is my sleutels en my motor weg.”

Die rowers het wel eergister hul moses teëgekom toe polisielede dié motor in Mamelodi-Oos, in die ooste van Pretoria, met drie insittendes daarin opgemerk het.

Insp. Klaas van der Kooi, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie wou die verdagtes van die pad trek, maar ’n jaagtog het ontstaan.

“Die bestuurder van die motor het op die hoek van Baviaanspoort- en Stormvoëlweg in East Lynne, Pretoria, beheer oor die motor verloor en deur ’n muur van ’n laerskool gery.

“Die verdagtes het by ’n taxistaanplek ingehardloop, maar is deur lede van die taxigemeenskap aangekeer. Daar is op die motor, asook dagga en kabelhegters, beslag gelê,” het Van der Kooi gesê.

Die drie verdagtes, onderskeidelik 15, 17 en 27 jaar oud, het gister in die Pretoriase landdroshof op ’n klag van die besit van ’n gesteelde voertuig verskyn.

Volgens Van der Kooi kan die verdagtes vermoedelik met ander misdade verbind word.

Du Preez het gesê sy het gemengde gevoelens oor haar motor wat teruggekry is, maar sê tog die polisie se goeie werk gee ’n mens weer hoop. “Ek weet nie wat die toestand van die motor is nie en weet nie of ek hom wil terughê en dan breek hy oor drie maande weer nie.

“Die polisie se optrede maak ’n mens weer positief, want nog nie een van die rowers wat my geskiet het, is gevang nie. Soms wonder ek hoeveel gaan nog met my gebeur, maar die Here se krag dra my daardeur.”

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2304516,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.