Monday, 7 April 2008

Plaasboer in bed vermoor

Apr 06 2008 07:47:08:137PM - (SA)

Carla Mouton

Ventersdorp. – ’n Boer van hier met die bynaam “dominee” omdat hy so mooi met alle mense gepraat het, is met ’n mes in sy bed vermoor.

Mnr. Pieter Heyneke (68), wat op die plaas Witpoort tussen dié dorp en Potchefstroom geboer het, se vriendin, Riekie Nortman (46), was by hom.

Nortman het eergister in die vroeë oggendure wakker geword van iets teen haar keel, het me. Daleen Toxopëus (39), Heyneke se dogter, gister gesê.

Sy het haar kop na Heyneke gedraai en gesien een van die aanvallers was bo-op hom en steek hom herhaaldelik met ’n mes. Een van die aanvallers het haar aan die keel beetgehad en op vlot Afrikaans die hele tyd gevra: “Waar is die geld.”

“Niemand kon iets sê nie. My pa het probeer opstaan. Toe Riekie skree, het hulle met ’n selfoon en ’n pistool gevlug. Sy het na haar seun, Dennis, geroep. Sy sê dit is al aan wie sy kon dink. Hulle het toe seker gedink hy is ook in die huis,” vertel Toxopëus.

Haar man, mnr. Bertus Toxopëus, sê daar is voorverlede Sondag by Heyneke se huis ingebreek.

“Toe is twee van sy ou selfone gesteel. Dieselfde deur is weer vir toegang gebruik. Ons het vir Pa gesê hy moet sy slotte vervang, maar hy het in die goeie dinge in die lewe geglo. Hy sou nooit geweld met geweld vergeld nie.”

Volgens Toxopëus is Nortman, wat die afgelope twee jaar met Heyneke bevriend was, steeds geweldig getraumatiseer.

Sy het ná die voorval Heyneke se seun Chris (41) gebel wat op ’n buurplaas boer. Toe hy daar gekom het, was sy pa reeds dood.

“Sy kan nie ophou bewe nie. Sy is nou by familie in Rustenburg.”

Heyneke, wat drie dogters, ’n seun en sewe kleinkinders agterlaat, was volgens mnr. Toxopëus ’n “mensemens”.

“Toe ek later na die statte ry om vir die werkers te vertel hy is dood, het hulle in die straat gaan sit en soos babas gehuil,” vertel mnr. Gerhard Koen, Heyneke se ander skoonseun.

“Hy sou nie ’n sent gehad het nie, maar as van sy werkers by hom wou geld leen, sou hulle nie daar weggeloop het sonder die geld nie. Hy het elke oggend vir hulle koffie gegee en as hy nie daar was nie, moes iemand anders dit doen. My pa was goed vir alle mense,” las me. Elrina Koen (35), Heyneke se dogter, by.

“Sy bynaam was dominee, omdat hy so mooi met mense gepraat het,” sê mnr. Toxopëus.

“Hy was ’n sagte mens en het geweet hoe om met ander te werk. Hy was lief vir dans, toneelspeel en die wildtuin.”

Daar is nog geen begrafnisplanne nie.

Supt. Louis Jacobs, polisiewoordvoerder, sê ’n verdagte is eergisteroggend vroeg in hegtenis geneem.

“Hy word ondervra, maar kan nog nie positief met die voorval verbind word nie.”

Twee ander verdagtes is Vrydagoggend gearresteer vir die moord op mnr. Albert Johnson voorverlede naweek in sy huis op Klerksdorp en sal vandag in die hof verskyn. Artikels wat uit die huis gesteel is, is in hulle besit gekry, sê Jacobs.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2301053,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.