Wednesday, 16 April 2008

Plaaswerker skuldig aan moord, dade met weduwee (70) se lyk

Apr 15 2008 09:27:00:640PM - (SA)

Jeanne-Marié Versluis

’n Plaaswerker wat voorheen ter dood veroordeel is, is gister in die Pretoriase hooggeregshof daaraan skuldig bevind dat hy ’n weduwee (70) se keel afgesny en seks met haar lyk gehad het.

Amos Maxuring Zulu (57), wat ’n rits vorige veroordelings het, het gister in sy pleitverduideliking gesê hy het mev. Johanna Maria Erasmus se keel afgesny en toe met sy dagtake op die plaas voortgegaan.

Die staat het betoog dit is ’n “miljoendollar-vraag” of Zulu seksuele omgang met Erasmus gehad het terwyl sy geleef het (verkragting) of met haar lyk (lykskending).

Die hof het bevind die staat kon nie bo redelike twyfel verkragting bewys nie en het Zulu aan lykskending skuldig bevind.

Die DNS wat in Erasmus gevind is, stem ooreen met Zulu s’n.

Erasmus het by haar seun, Daan, op die plaas Rietfontein in Welbekend in die Bronkhorstspruit-distrik gewoon.

Sy was die dag van haar moord alleen in ’n bokstal op die plaas.

Zulu het skuld ontken op die aanklag van verkragting en die alternatiewe aanklag van lykskending en geen pleitverduideliking daaroor afgelê nie.

Hy het egter skuld beken op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede.

Hy het in sy pleitverduideliking oor dié aanklagte gesê hy het op 12 Februarie 2007 Erasmus “onwettig en doelbewus” vermoor en van haar Nokia-selfoon beroof.

“Sy het my gevra hoekom ek die bokke so vroeg uitgelaat het.”

Hulle het begin stry. “Ek het kwaad geword en die mes uit my sak gehaal en haar keel afgesny. Ek het haar selfoon gevat en voortgegaan met my normale dag-tot-dag-pligte.

“Ek het nie ’n wettige verweer nie,” het hy gesê.

Die staat het verskeie vorige veroordelings van Zulu aan die hof voorgehou, soos aanranding, ontvlugting uit aanhouding, diefstal en verkragting.

Zulu is in 1985 ook aan moord skuldig bevind waarop hy die doodstraf opgelê is.

Nadat hy tien jaar die doodstraf in die tronk afgewag het, is dit tersyde gestel en is hy vrygelaat.

Kapt. Steven Hermitage, ondersoekbeampte, gaan op 2 Junie ter strafverswaring getuig wanneer Zulu gevonnis word.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2306493,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.