Thursday, 24 April 2008

Polisie soek onverpoos na skurke

Mnr. Andrew Modikela, een van die twee mans wat gesoek word vir die gruwelmoorde op mnr. At (60) en mev. Katrien Deysel (56) tussen Lichtenburg en Ottoshoop, asook mev. Zaiboon Jeena (61), wat in Maart vermoor is nadat haar vingers gebreek is, sy met 'n strykyster gebrand en verkrag is. Bel insp. Carina Fourie by 082 856 1613 as jy hierdie man herken.

Apr 23 2008 10:17:44:663PM - (SA)

Nicolize van der Walt

Lichtenburg. – Die reuse-polisie-soektog na twee ontsnapte mans wat van ’n wrede plaasmoord verdink word, gaan steeds voort.

Teen druktyd gister het die polisie bevestig hulle volg steeds leidrade op en werk onverpoos om die boosdoeners op te spoor.

Lede van die polisie se honde-eenheid in Noordwes, die plaaslike lugvleuel, die berede eenheid, die eenheid vir sigbare polisiëring en die eenheid teen georganiseerde misdaad neem onder meer aan die soektog deel, het insp. Carina Fourie, polisiewoordvoerder, gesê.

Sy wou nie sê presies wat die gebied is wat deurgesoek word nie, aangesien dit “sensitiewe inligting” is.

Die twee gesoektes het die afgelope naweek uit die Ottoshoop-polisiestasie se selle ontsnap.

Mnr. Philip Moremi en sy vermeende medepligtige, mnr. Andrew Modikela, word daarvan verdink dat hulle mnr. At (56) en mev. Katrien Deysel (60) Maandag op hul plaas tussen Lichtenburg en Ottoshoop vermoor het. Moremi word ook verdink van die moord op me. Zaiboon Jeena (61) in Maart vanjaar in Ottoshoop. Sy is verkrag, met ’n strykyster gebrand, met ’n mes gesteek en haar vingers is gebreek.

Intussen het me. Edwa Molewa, die Noordwes-premier, haar skok en afkeer van die moorde uitgespreek. Sy het by monde van haar woordvoerder, mnr. Cornelius Monama, gesê die wreedheid en gewetenloosheid van die moorde het haar die meeste geskok.

“Namens die Noordwes-regering wil ek my opregte simpatie uitspreek met die familie van die oorledenes. Ek doen voorts ’n beroep op die gemeenskap om die polisie te help met hul ondersoek en hulle van inligting te voorsien sodat die oortreders vasgetrek kan word,’’ sê Molewa.

Intussen het die Transvaalse Landbou-unie van SA sy skok en ontevredenheid met dié en ander plaasmoorde in die land uitgespreek. Hulle het reeds te kenne gegee hulle wil ’n klag by die menseregte-kommissie hieroor indien. Die president van die TLU, mnr. Paul van der Walt, het in verklaring gesê dat dié organisasie sy lede maan om nie eie reg te gebruik of om só op te tree dat dit lyk asof hulle die wet oortree nie.

“Maar die boere se geduld is op breekpunt en dit word al hoe moeiliker om hulle tot kalmte te maan. Niemand hoef immers toe te laat dat jy weerloos afgeslag word terwyl die regering met gevoude hande sit en toekyk nie, en terwyl sy amptenare misdadigers voortydig vrylaat of laat ontsnap, sodat dié met hulle duiwelswerk kan voortgaan.”

Mense met inligting kan Fourie bel by 082 856 1613.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2311284,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.