Wednesday, 2 April 2008

Rower verkrag ma voor seun

Apr 01 2008 07:59:43:753PM - (SA)

Virginia Keppler

’n Rower het ’n vrou van die Pebble Rock-veiligheidslandgoed in Leeufontein, noordoos van Pretoria, gister net ná middernag reg langs haar sesjarige seuntjie verkrag.

Nog twee rowers het tóé haar vasgebinde man en hul vyfjarige dogter in die hoofslaapkamer se badkamer aangehou.

Dié gesin, wat besig is met planne om na Australië te emigreer, is in hul slaapkamer oorrompel.

Kapt. Jan Sepato, polisiewoordvoerder, het gesê die vrou (35) en haar man (37) het gister wakker geskrik toe hulle ’n geluid in hul slaapkamer gehoor het.

“Toe hulle opspring, het drie gewapende rowers hul kamerlig aangeskakel, hulle oorrompel en gedwing om plat op die bed te gaan lê.

“Hulle het gevra vir geld en vuurwapens en die man het gesê hy het geld in ’n kas in die huis.”

Sepato het gesê die rowers het saam met die man na die kas gegaan om die geld te kry.

“Die man het hulle R5 000 gegee en toe neem hulle hom na die badkamer waar een rower wag oor hom gehou het.”

Volgens Sepato het die ander rowers die paartjie se kinders in hul kamers gaan wakker maak en hulle na die hoofslaapkamer geneem. “Hulle het die meisie na haar pa in die badkamer geneem en die seun langs sy ma laat lê.

“Daarna het die een rower die ma voor die seun verkrag.”

Die rowers het daarna selfone, twee plasma-televisies en ander waardevolle goedere gesteel, die gesin in die hoofslaapkamer toegesluit en gevlug.

“Die pa het hom losgewikkel en hulp ontbied.”

Kapt. Barend Brits van die Kameeldrif-polisiekantoor het gesê die paartjie was gisteroggend nog erg geskok. “Ons het vir hulle berading aangebied, maar hulle het gesê hulle sal self iemand professioneel kry.”

Mnr. Gerhard Korf, voorsitter van die landgoed se beheerliggaam, het in reaksie op kritiek oor die elektriese heining rondom die kompleks gesê die veiligheidsheining was in werking tydens die aanval.

Hy het ook gesê daar is valhekke en wagte by die hek en wagte patrolleer die perseel gereeld.

“Hulle (die rowers) het ’n gat onder die heining gegrawe, die drade op ’n manier, sonder om te skok, opgelig en het toe deurgeglip. Dit moes gebeur het tussen die veiligheidswagte se rondtes,” het Korf gesê.

Hy het gesê hulle vergader vanaand by die landgoed om inwoners van die voorval in te lig en ander veiligheidsopsies te bespreek.

In Desember verlede jaar het vyf rowers ’n paartjie in hul huis in die landgoed aangeval.

Hulle het egter daarin geslag om die slaapkamerdeur lank genoeg toe te druk totdat hul buurman met sy haelgeweer tot hul redding gekom het.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2298172,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.