Tuesday, 22 April 2008

Rowers skiet man in TV-stoel dood

Mnr. Johan Myburgh (33)

Apr 21 2008 10:30:54:417PM - (SA)

Aletta Otto

Middelburg. – Inbrekers het ’n niksvermoedende jong man soos sluipmoordenaars bekruip en deur ’n sitkamerruit doodgeskiet voordat hulle by die plaashuis ingebreek het.

Mnr. Johan Myburgh jr. (33) is in sy pa se sitkamerstoel voor die televisie geskiet. Sy arm was nog agter sy kop, sy een been onder sy lyf ingevou en langs hom het ’n botteltjie koeldrank gestaan toe sy oupa Saterdagoggend op sy lyk afgekom het.

’n Enkele skoot het hom in die agterkop getref en hy is op slag dood. Daar was vermoedelik twee aanvallers.

Volgens insp. Kgeredi Moela van die Groblersdal-polisiekantoor het sy aanvallers daarna toegang tot die huis verkry deur ’n ruit by een van die slaapkamers te breek en deur die venster te klim.

Hulle het die kluis oopgesaag en met R50 000 en drie vuurwapens gevlug – ’n .22-geweer, ’n pistool waarvan die kaliber onbekend is en ’n .38 Special-rewolwer.

“Dit is vreeslik en so onnodig,” het Myburgh se ouma, mev. Joey Myburgh (77), gister gesê.

Haar man, ook Johan (84), het op die lyk afgekom.

Myburgh jr. het voor sy dood saam met sy ouers, mnr. Fanie (55) en mev. Petro Myburgh (51), op hul plaas Rietfontein gewoon.

Die plaas is sowat 25 km buite Groblersdal op die Middelburg-pad.

Volgens mev. Myburgh was haar kleinseun Vrydagaand alleen tuis omdat sy ouers by ’n woonwasaamtrek in Witbank was.

Hy het vroeër by sy ouma-hulle, wat anderhalwe kilometer van hulle woon, gaan eet, maar weer huis toe gegaan.

Die polisie vermoed dat hy tussen 20:00 en 22:00 geskiet is.

Mev. Myburgh vertel dat hulle eers gisteroggend uitgevind het haar kleinseun is doodgeskiet.

“Van die werkers op die plaas het vroeg die oggend na ons toe gekom en gesê dat daar baie spore om die huis is en die deure oop staan.

“My man het dadelik gegaan en Johan daar gekry. Die hele plek was vol bloed . . .

“Ek het nie gegaan nie. Ek het ook soveel gebewe dat ek nie eens die polisie kon bel nie. My man moes dit doen. Dit is verskriklik wreed.”

Die oorledene het saam met sy pa, Fanie, ’n onderneming bedryf wat palissadeheinings en dakke opsit. Sy pa boer ook op die plaas met beeste, skape en bokke.

Volgens Moela sal die lykskouing later vandeesweek plaasvind.

’n Man is gister deur die polisie ondervra, maar is as verdagte uitgeskakel en laat gaan.

# Mev. Myburgh het gesê sowat ’n week gelede is by die huis van ’n buurman in die omgewing ingebreek. ’n Rewolwer is toe gesteel. Dié wapen is moontlik gebruik om Myburgh jr. mee dood te skiet.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2310002,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.