Friday, 4 April 2008

Rowers skiet man voor sy seun (3)

Die toneel in Pomona Weg, Kemptonpark aan die Oos-Rand waar mnr. Anton Dippenaar (27) voor sy drie-jarige seuntjie deur rowers doodgeskiet is. Foto: Samantha Simons

Apr 03 2008 08:47:35:450PM - (SA)

Gloria Edwards

’n Jong pa is gister voor sy driejarige seuntjie doodgeskiet nadat rowers sy motor in Kempton Park aan die Oos-Rand probeer kaap het.

Dít nadat ’n ander motoris die rowers se wegkommotor van die pad gedwing en hulle ’n ander wegkommotor wou kry.

Mnr. Anton Dippenaar (27) is deur vyf gewapende rowers ten aanskoue van sy seun, Dylan, in die bolyf geskiet.

Luidens konst. Zenzile Murudi, Kempton Park-polisiewoordvoerder, het die rowers glo eers mnre. Hans-Joachim Molthahn (65) en Peter Jonischkeit (68) van ’n bank tot by hul onderneming agtervolg waar hulle die twee van R10 000 se salarisgeld wat hulle getrek het, beroof het.

Mnr. Sarel Robbertse (29) van Kempton Park het gesien hoe die rowers in ’n wit Opel Monza van die onderneming vlug en het hulle agterna gesit.

“Ek het hulle guns gesien en toe jaag ek voor hulle in en stop, sodat my bakkie hulle van die pad afstamp.” Die Monza het in ’n heining vasgejaag en die rowers het uitgespring. “Hulle kom toe op my af, toe jaag ek weg. Maar as ek hulle nie gestop het nie, het hulle weggekom,” het hy gesê.

Dit is tóé dat die rowers Dippenaar se wit Corsa-bakkie voorkeer en sy deur oopruk.

Robbertse het glo gesien hoe Dippenaar voor sy seuntjie geskiet word. “Hulle het ’n get?away-car gesoek. Hy (Dippenaar) was net op die verkeerde plek op die verkeerde tyd.”

Dippenaar is op die toneel dood. Murudi het gesê een van die rowers is ná ’n jaagtog deur die polisie doodgeskiet.

“Die ander vier is gearresteer en die gesteelde goedere teruggevind.”

Molthahn het aan Beeld gesê hul beursies en selfone is ook geroof. “Ons voel so jammer vir die man (Dippenaar) se gesin. Ons is net bly ons leef nog,” het hy gesê.

Mnr. Johan Dippenaar (54), die oorledene se pa, het gesê sy seun, wat in Secunda bly, was net in Kempton Park om “vinnig iets vir die werk op te laai”. Hy het gesê sy skoondogter was te geskok om met die media te praat. “Ons is almal baie hartseer,” het hy gesê.

Dylan is deur sy ma en Dippenaar se vrou, Nolene (26) wat ná die voorval na die toneel ontbied is, na haar skoonouers se huis geneem waar sy Dylan en hulle eenjarige babadogter, Christi, versorg het.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2299675,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.