Tuesday, 1 April 2008

Rowers skiet twee se pa sewe keer

Kay (middel) en Zian (regs) van Greunen luister na wat hul ma, me. Ilze van Greunen oor hul pa, mnr. Marius van Greunen vertel. Mnr. Van Greunen is Saterdagoggend vermoor. Foto: Alet Pretorius

Mar 31 2008 08:25:37:630PM - (SA)

Hilda Fourie

’n Oudpolisieman en pa van twee jong kinders is Saterdag dood aangetref in sy slaapkamer op ’n kleinhoewe in Kameeldrift, in die noorde van Pretoria, nadat rowers hom sewe keer geskiet het.

“Sewe keer? Hoekom sewe keer?” het ’n bedroefde me. Ilze van Greunen (34) oor haar man, Marius (38), se dood gesê.

Mnr. Van Greunen was ’n inspekteur in die speurafdeling van die Kameeldrift-polisiekantoor voordat hy sowat ’n jaar gelede bedank het. Hy het daarna by ’n steenmakery gewerk.

“Hulle kon hom mos een keer geskiet, vasgebind of oor die kop geslaan het. Dit was nie nodig om hom dood te skiet nie.”

Me. Van Greunen en haar kinders, Kay (6) en Zian (4), was met vakansie in Durban ten tyde van die voorval, en het Saterdagmiddag ’n vlug na Gauteng gehaal. Sy het die kinders op vakansie geneem omdat daar sowat twee weke gelede twee keer ná mekaar by dié huis ingebreek is en die kinders “nie eens meer alleen badkamer toe wou gaan nie”.

“Ek wou hulle net van alles af wegneem,” het me. Van Greunen gesê.

Mnr. Louis Esterhuizen (32), mnr. Van Greunen se swaer wat op die kleinhoewe in ’n aparte huis woon, het gesê hy het Saterdag omstreeks 03:00 wakker geword van sewe skote.

Hy het hom nie veel daaraan gesteur nie, want daar word glo gereeld in dié omgewing geskiet.

“Ek het opgestaan en buite vir beweging gekyk, maar niks gesien nie,” het Esterhuizen gesê.

“Saterdagoggend is ek dorp toe. Toe ek omstreeks 11:00 terugkom by die huis, het ek onraad vermoed want Marius se motor was nog in die oprit, die huis se deure – buiten vir sy kamerdeur – was gesluit en daar was ’n leer op na Marius se balkon.

“Ek het in die huis ingegaan en Marius bo in sy kamer op sy bed gekry. Hy is sewe keer geskiet. Dit is ’n gesig wat my altyd sal bybly,” het Esterhuizen gesê.

Van Greunen se skootrekenaar, selfoon en beursie is gesteel.

Van Greunen se oudkollegas moes die toneel ondersoek waar hy dood is.

“Toe ek die nuus hoor, kon ek dit nie glo nie,” het me. Van Greunen gesê.

Volgens haar is die kinders kalm nadat hulle die nuus oor hul pa gehoor het. Kay wys na die hemel as mens haar vra waar haar pa is. Zian sê die grootste ster in die hemel is sy pa.

“Hulle het my kinders van ’n pa ontneem. Vir ewig,” het me. Van Greunen gesê.

’n Roudiens vir Van Greunen sal Vrydagoggend om 11:00 in die Lewende Woord-gemeente in Montana gehou word.

Kapt. Lerato Mthiyane, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

Volgens Mthiyane het ’n onbekende aantal verdagtes Van Greunen oorval en vermoor.

’n Saak van moord word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2297568,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.