Thursday, 17 April 2008

Rowers vat wat hulle wil en tart toe slagoffers

Mnr. Bernard Cowley (46) vertel gister by sy huis in Queenswood hoe ses rowers hom, sy kollega, sy suster se dogter en 'n vriend bykans drie uur lank in dié huis aangehou het. Foto: Cornél van Heerden

Apr 16 2008 08:38:53:530PM - (SA)

Fanie van Rooyen

“As ons vuurwapens in hierdie huis vind, skiet ons julle almal morsdood.”

Só het ’n groep van ses gewapende rowers herhaaldelik aan ’n eiendomsagent van Queenswood in Pretoria, sy vennoot, sy suster se dogter en ’n vriend van hulle gesê toe hulle dié vier Vrydagaand bykans drie uur lank by dié eiendomsagent se huis aangehou en aangerand het.

Mnr. Bernard Cowley (46), eienaar van Dinamika Eiendomme, het gesê dié rowers het hulle byna nog twee uur lank aangehou, uitgetart en met hulle “gemors” nadat hulle reeds alles wat hulle wou gehad het, uit die huis gedra het.

Cowley was gevolglik drie dae lank in die Eugène Marais-hospitaal met ’n gebreekte neus en vir ’n operasie om ’n membraan onder sy oog te herstel.

“Ons was by Brooklyn Mall-winkelsentrum en het omstreeks 21:00 Vrydag weer by my huis aangekom,” het Cowley gesê.

Cowley het ingery en die honde hoor blaf. Hy het na mnr. Billy Gough (23), sy vennoot, omgekyk en gesê: “Hier is moeilikheid.”

Gough en mnr. Burger Jordaan (21), ’n vriend wat ook saam met hulle was, het uit die motor gespring en weerskante om die huis gehardloop.

“Halfpad om die huis het Burger twee mans in die donker aangetref. Hulle het hom gegryp en hom weer na die motor gebring. Nóg vier rowers het van die ander kant van die huis gekom en vir Billy met ’n pistool teen sy nek na die motor gelei.

“Hulle het ons na die agterdeur gelei en ons beveel om oop te sluit. Daarna was dit chaos. Hulle het ons op die kombuisvloer neergegooi en elektriese drade uit die mure geruk om ons mee vas te bind. “Ons almal se hande is agter ons rue vasgebind en ons is herhaaldelik geskop en geslaan.”

Die rowers het glo herhaaldelik gesê dat hulle nie vir me. Natasha Thompson (20), Cowley se susterskind, wil verkrag nie, maar dat hulle “almal sal doodskiet” indien hulle vuurwapens in die huis vind.

Hulle het glo elektriese toebehore soos skootrekenaars, selfone en rekenaars uit die huis gedra.

“Ek het hulle aangeraai om my ou Hyundai Sonata, wat in die agterplaas gestaan het, te vat. Hulle het Billy na my kluis gelei om die sleutels te kry en hulle het alles in die Sonata gelaai.

“Nadat hulle gevat het wat hulle wou, het hulle ons in die eetkamer op die stoele van die eetkamerstel vasgemaak.

“Hulle het heeltyd gesê ons mag nie opkyk nie en hul pistole herhaaldelik oorgehaal."

“Ná sowat ’n uur en ’n half het hulle ons elkeen in afsonderlike kamers in gelei, ons weer vasgebind en die kamerdeure gesluit,” het Cowley gesê. Ná bykans ’n halfuur het die vier slagoffers vir mekaar begin fluit om te hoor of dit veilig is. Gough het homself met ’n mes losgesny en omstreeks 00:00 die polisie, wat “binne minute opgedaag het”, ontbied.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2307117,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.