Saturday, 19 April 2008

Vrou skiet rower glo met sý wapen

Apr 17 2008 07:18:51:600PM - (SA)

Virginia Keppler

’n 73-jarige vrou van Valtaki in Bronkhorstspruit, oos van Pretoria, het ’n rower glo tydens ’n rooftog met sy eie vuurwapen doodgeskiet.

Dié eienaar van ’n spaza en haar assistent is Dinsdag omstreeks 16:00 oorval deur vyf rowers, wat kort tevore meel en Coke by haar winkel gekoop het.

Mev. Ivy White het gesê sy en haar assistent het gewonder wie die mans is toe hulle vroeër by die winkel was, want hulle het hulle nog nooit tevore gesien nie.

“Net toe my assistent wou huis toe gaan, het hulle hom in die deur oorval en sy motorsleutels en selfoon afgevat,” het White gesê.

Die rowers het hom toe op die grond platgedruk.

“Ek het gehardloop om my groot Rottweiler te gaan vrylaat, maar ek was te laat. Die een rower het vinnig na my toe aangehardloop gekom. Hy het ’n rewolwer in die hand gehad en ek het nog gedink: Hel, hier kom moeilikheid!

“Net toe hy byna op my was, het sy voet gelukkig gegly en daar val die rewolwer. Nee jong, toe spring ek vinnig, gryp die rewolwer van die vloer af én toe skiet ek.”

White het gesê die rower het die rewolwer probeer teruggryp en het haar met ’n stok oor die hand geslaan.

“Hy het toe die rewolwer met dieselfde stok uit my hand geslaan. Ek het gedog hy gaan my skiet, maar toe sukkel hy by die deur uit.

“Die stoel het onderstebo gelê en die muurhorlosie het op die grond geval soos wat hy wild met die stok geslaan het.

“Toe hy by die deur uit struikel, het ek net gesê: ‘Dankie Here’,” het White gesê.

Volgens haar het die ander vier rowers die hasepad gekies.

Kapt. Simon Mashiloane, polisiewoordvoerder, het gesê ’n plaaswerker wat naby die winkel woon, het die skoot gehoor. Sy het na die winkel gehardloop om ondersoek te gaan instel.

“Op pad het drie verdagtes verby haar gehardloop en gesê daar is ’n rower in die winkel.

“Die werker se honde het intussen na ’n nabygeleë bos gehardloop en hard begin blaf. Sy het hulle gevolg en afgekom op ’n man wat op die grond gesit en bloei het. Hy is eenkeer in die bolyf geskiet.

“Sy het verder gehardloop om ander werkers te roep, maar die man was reeds dood toe hulle weer by hom uitgekom het. Hy is later as een van die rowers geïdentifiseer.”

Mashiloane het gesê die polisie ondersoek klagte van gewapende roof en moord.

Hy het gesê die ander rowers het met sowat R3 000 en verskeie selfoonkaarte gevlug.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2307883,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.