Wednesday, 14 May 2008

'Beskerm ons teen misdaad!'

Polisielede hou 'n ogie terwyl boere en lede van Lichtenbeurg se gemeenskap gister betoog het teen plaasmoorde. Foto: Johann Hattingh

May 13 2008 09:31:23:580PM - (SA)

Nicolize van der Walt

Lichtenburg. – Mev. Katrien Deysel sou gister 57 jaar oud geword het.

In plaas van ’n verjaardagpartytjie om dié mylpaal te herdenk, het van haar kinders, vriende en die gemeenskap saamgetrek om ’n massa-protesoptog teen misdaad te hou.

Sowat 1 000 boere en gemeenskapslede van alle rasse het gister hul “ongelukkigheid en frustrasie oor misdaad” uitgespreek. Die optog het saamgeval met die tweede hofverskyning van een van die vermeende moordenaars van Deysel en haar man, At (60). Die egpaar is op 21 April op hul plaas tussen Lichtenburg en Ottoshoop vermoor.

Mnr. Andrew Modikela (41) sal weer op 29 Mei in die hof verskyn. Sy medebeskuldigde, mnr. Philip Moremi (29), het nog nie in die hof verskyn nie, aangesien hy nog herstel van ’n skietwond wat hy opgedoen het tydens sy inhegtenisneming, sowat drie dae ná die dubbele moord. Albei beskuldigdes het die dag voor die moorde uit die Ottoshoop-polisieselle ontsnap.

“Die regering het ’n grondwetlike verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap om hulle te beskerm. Hierdie is ’n sein na die regering om die verantwoordelikheid na te kom. Ons wil en sal nie die land verlaat as gevolg van misdaad nie,’’ het mnr. Pieter Groenewald, Noordwes-leier van die VF+, tydens die optog gesê.

Die VF+ het soos AfriForum en die Transvaalse Landbou-Unie (TLU) ’n griefskrif aan die Noordwes-regering oorhandig. Dié party het op grond van misdaadstatistieke gesê boerdery is tans die gevaarlikste beroep in die Suid-Afrika – selfs gevaarliker as die polisiediens.

Mnr. Oarabile Mocwaledi het die griefskrifte namens mnr. Frans Vilakazi, LUR vir veiligheid, ontvang.

Die deelnemers aan dié vreedsame optog het met trekkers, bakkies en hul voertuie ’n roete deur die dorp gery voordat hulle die griefskrifte oorhandig het.

Sommige plakkate het duidelike boodskappe van die gemeenskap se onvergenoegdheid uitgespreek. “Ons eis beskerming”, “Bring die kommando’s terug”, “Stop plaasmoorde/misdaad”, “Geen boere, geen kos”, “Volksmoorde/Genocide”, het ’n paar van dié slagspreuke gelui.

Mnr. Nantes Kelder, hoof van gemeenskapsveiligheid van AfriForum, het namens dié inisiatief en die TLU gevra die regering moet alle misdrywe met dieselfde intensiteit veroordeel en ondersoek.

Hy het voorts “onverbiddelike optrede” geëis teenoor veral polisielede wat misdadigers bystaan “deur hulle van polisie-uniforms en ander oënskynlike identifikasie te voorsien”.

“Hierdie twee misdadigers het ontsnap. Dis bog dat dit as gevolg van beurtkrag was. Selle in Suid-Afrika sluit met ’n sleutel en elektrisiteit het dus niks daarmee te make gehad nie. Dit moet ondersoek word of hierdie misdadigers hulp van binne gehad het,’’ het Kelder gesê.

Mnr. Paul van der Walt jr., ondervoorsitter van die Lichtenburg-distrikslandbou-unie, het ter afsluiting gesê dat hulle nie meer beskerming vra nie. “Ons eis dit nou.”

Lede van die UCDP, DA, SAPP en die AGS-kerk het ook aan die optog deelgeneem, maar het geen formele griefskrifte met hul standpunte oorhandig nie.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2321815,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.