Saturday, 10 May 2008

Booswig skiet man dwarsdeur staaldeur

Mev. Justine Grobler vertel hoe haar man, Willem, Woensdagoggend deur 'n rower met 'n AK47-aanvalsgeweer dwarsdeur 'n staaldeur in die bors geskiet is. By haar is haar skoonma, Ignet. Foto: Bongiwe Gumede

May 09 2008 10:01:27:013PM - (SA)

Alet van Zyl

Minder as sewe maande nadat ’n egpaar van Glenvista aan die Oos-Rand hul huis teen R50 000 beveilig het, lê die man in die Unie-hospitaal in Alberton nadat ’n rower hom met ’n AK47-aanvalsgeweer dwarsdeur ’n staaldeur in die bors geskiet het.

Mnr. Willem Grobler (34), wat sy eie onderneming van die huis bedryf, het Woensdagoggend omstreeks 11:00 by sy huis in Mount Pellanstraat aangekom. Ses gewapende mans het glo agter hom by die elektriese hek ingeglip en hom oorval.

Die een man, gewapen met die AK47, het Grobler deur die huis geneem, terwyl die ander vyf, almal gewapen met pistole, sy vrou, Justine, in die motorhuis ingewag het.

Die egpaar het verlede Oktober net ná ’n traumatiese gewapende rooftog waartydens hulle vasgebind en hul huis leeggedra is, die huis met ’n geëlektrifiseerde heining, alarmstelsels en ’n slaapkamerdeur van staal wat koeëlvas is teen die meeste ander koeëls, beveilig.

“Hulle het dadelik my trouring gevat wat ek nou net weer gekry het ná die vorige rooftog,” het mev. Grobler gister in die wagkamer buite die waakeenheid waar haar man aansterk, vertel.

Die rowers het haar in die huis geneem net toe haar man, met die AK47-gewapende rower agter hom, uit die slaapkamer stap.

“Ek weet nie wat hy (Willem) gedink het nie, maar hy het op die man (met die AK47) gespring en hom begin slaan.

“Hy (die rower) het Willem met die geweer teen die kop geslaan en gesê: ‘ I ’m going to shoot your f***ing head off. ’ ”

Mnr. Grobler het daarin geslaag om die rower weg te stamp sodat hy die slaapkamerdeur kon toedruk om die noodknoppie te druk.

“Daarna het hy (die rower) met die AK47 dwarsdeur die staal, deur my man tot in die bed agter hom geskiet.

“Van die ander rowers het ook begin skiet. Ek het net op die grond geval en my hande oor my kop gedruk. Die polisie het later patroondoppies op die grond gekry net langs die plek waar ek gelê het,” het mev. Grobler vertel van die oomblik toe die rooftog begin skeefloop het.

Die rowers het daarna op die vlug geslaan.

“Ek weet nie hoekom hulle gevlug het nie. Miskien het die ou se koeëls opgeraak, of dalk het hulle net geskrik. Miskien het hulle gedink die mense het die geweerskote gehoor.

“Hulle het bo-oor my gespring op pad uit. Ek het gedink nou gaan hulle my skiet net om ’n punt te bewys.”

Volgens mev. Grobler kon haar man nog nie sedert die voorval met haar praat nie, maar sterk hy goed aan.

Volgens haar het ’n groot deel van die AK47-koeëls, wat anders as gewone koeëls gewoonlik deur vleis en been skeur, in die staaldeur agtergebly en het net die punte deur haar man se longvlies gedring.

“Daar is nog baie bloed op sy longe, so hy kan nie self asemhaal nie, maar dit gaan al baie beter as Woensdag,” het mev. Grobler verduidelik.

Insp. Lorraine van Emmerik, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê die polisie ondersoek die saak.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2319772,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.