Saturday, 17 May 2008

Dapper René kry oorweldigende steun



May 16 2008 09:51:17:143PM - (SA)

Sarietha Engelbrecht

Kaapstad. – Suid-Afrikaners het oorweldigend gereageer nadat me. René Burger (20), suster van die Springbok-rugbyspeler Schalk Burger, bekend gemaak het dat sy verkrag is.

Só het me. Elna Boesak, woordvoerder van die Burger-gesin, gesê nadat me. Burger eergister bevestig het sy is die student wat verlede week by die Tygerberg-hospitaal ontvoer en verkrag is.

“Die reaksie was ongelooflik positief. Die land salueer haar vir die dapper besluit wat sy geneem het in ’n tyd waar ons so maklik ingee aan negatiwiteit,” het Boesak gesê.

“Die reaksie wat ons plaaslik én internasionaal gekry het, is oorweldigend. Ek dink die Burger-familie en Suid-Afrika is onkant gevang daardeur.”

Volgens Boesak lê daar vir Burger ’n lang pad van herstel voor.

“ ’n Mens moet dit nie romantiseer nie. Hierdie is ’n baie moeilike tyd vir René en haar gesin.”

Burger beplan glo om gou weer haar klasse by die Tygerberg-kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland voort te sit.

“Sy wil so gou moontlik aangaan met haar lewe. Dit is die eerste tree in die rigting van hoop. Sy het ’n keuse gehad, maar het gekies vir hoop en nie bitterheid nie.”

Volgens Boesak wil die familie die strafregtelike proses sy gang laat gaan om Burger se belange ten beste te dien.

Kapt. Ruan Brummer, polisiewoordvoerder, het gister gesê die polisie het nog nie veel reaksie gekry op die identikit wat onlangs uitgereik is nie. Daar kom egter gedurig nuwe inligting in.

“Ons is positief ons gaan hom (die verdagte) kry. Hy kan nie soos ’n groot speld verdwyn nie. Daar is ’n groot beloning en iemand sal praat.”

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2324039,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.