Sunday, 18 May 2008

Die krot waar sy deur hel is

Onder-regs Só lyk die bouval in Joostenbergvlakte buite Stellenbosch waar René Burger ure lank aangehou en verkrag is. Bo is die binnekant van die vervalle gebou. (Foto: Clarence Muller)

17/05/2008 20:12 - (SA)

Karin Burger, Chantelle Nicholas & Marlene Malan

Joostenbergvlakte

René Burger is op ’n gekraakte sementblad tussen lang gras en hope rommel in ’n vervalle viervertrek-murasie sonder ’n dak, deure of vensterrame verkrag.

Dié vervalle huis staan in die middel van ’n stuk veld op ’n plaas in Joostenbergvlakte – 15 km van Stellenbosch af – waar niemand noodkrete sou kon hoor nie omdat dit so afgeleë is.

Die jonger suster van die Springbok-held Schalk Burger is verlede Maandag by die Tygerberg-hospitaal deur drie mans ontvoer en na dié bouval 26 km daarvandaan gebring.

Sy is waarskynlik ure lank daar aangehou voordat sy dit reggekry het om te ontsnap. Sy het in haar motor geklim en blindelings weggejaag.

Kapt. Ruan Brümmer, bystandsoffisier, het gister gesê hulle is “kort op die hakke van die vermeende aanvallers en nuwe leidrade word daagliks opgevolg”.

Volgens hom is dit te danke aan die goeie beskrywing wat Burger van een van haar aanvallers gegee het. Hy het langs haar op die agtersitplek gesit.

“Dit het ons in staat gestel om ’n goeie identikit saam te stel. Die publiek het uitstekend daarop gereageer.”

Die bouval is enkele kilometers van die Tygerberg-dieretuin. Plaaswerkers se huisies sowat 300 m verder is die naaste teken van lewe.

Die naaste ander plaashuis se perseel is só goed beveilig met elektriese heinings en doringdraad dat toegang byna onmoontlik is.

Twee onafhanklike polisiebronne het bevestig dat die huis waar die misdaad plaasgevind het, “presies in daai omgewing is”.

Die bouval is duidelik die kuierplek van dronkaards. Hope leë drankbottels lê tussen die ander rommel rond.

Tydens Rapport se besoek gister aan die vervalle gebou was daar geen teken meer van polisielint of enige ander versperrings nie.

’n Inwoner van die gebied wat anoniem wou bly, het bevestig dat die polisie die afgelope amper twee weke elke dag by die murasie was waar snuffelhonde gebruik is om spoor te sny.

“Groot Schalk (pa van die slagoffer en ’n bekende wynmaker en sakeman van Wellington) was ook omtrent elke dag daar,” het hy gesê en na die bouval gewys.

“Dis baie tragies wat daar gebeur het. Die gebied is juis so gevaarlik.”

Ander inwoners het die gevaar in die Joostenbergvlakte-omgewing beklemtoon. “Daai ou huis is op die deurpad na die N1. Die mense wat koejawels steel om dit langs die grootpad te gaan verkoop, loop ook daar verby.

Boonop gebruik onder andere daggarokers dit as kuierplek, sê ’n plaaswerker.

’n Ander plaaswerker is daarvan oortuig dat die skuldiges mense van die omgewing is. “Hoe anders sou daai ouens van dié vervalle stuk ge-bou in die middel van nêrens geweet het?”

Die plaaswerkers het vertel hoe hulle deur die polisie ondervra is, maar volgens hulle was almal daardie dag in die boorde aan die werk.

Brümmer sê die plaaslike misdaad- rekordsentrum het voorverlede Maandag onmiddellik die misdaadtoneel én -omgewing deursoek. Foto’s van die bouval, asook alle moontlike leidrade, soos voetspore, vingerafdrukke en gebruikte kondome, is opgevolg.

“Burger is só erg in haar motor aangerand pas nadat sy by Tygerberg ontvoer is dat sy haar bewussyn verloor het. Sy het dit eers in die bouval herwin.

“Sy weet nie vir seker of sy deur al drie verkrag is nie, maar dit kan met forensiese ontledings vasgestel word. Die uitslag van die toetse sal egter eers oor ’n paar maande bekend wees.”

Brümmer sê dis in elk geval nie van belang wié haar verkrag het nie. “Al drie mans sal van verkragting aangekla word wanneer hulle in hegtenis geneem word. Niemand het iets gedoen om haar te help nie.”

• Oudpres. Nelson Mandela het Schalk Burger (sr.) Vrydag gebel en die familie sterkte toegewens, het me. Zelda la Grange, sy woordvoerder, gister aan Erna van Wyk gesê.

“Ons is baie geraak. Nie omdat dit ’n bekende gesin is nie, maar omdat ons hulle ken.”

Die Burger-familie, insluitend René, het Mandela verlede jaar besoek toe Schalk nie ’n fotosessie van die Springbokke met Mandela ná die Wêreldbeker-oorwinning kon meemaak nie.

Oorsprong:Rapport
http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2324419,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.