Saturday, 10 May 2008

Gesin gaan SA verlaat ná 12-jarige meisie in skietery sterf

Vermoor: Emily Williams

May 09 2008 10:01:28:623PM - (SA)

Kim Snyders

Die gesin van Emily Williams, die 12-jarige meisie wat vroeër vanjaar tydens ’n rooftog doodgeskiet is, gaan teen die einde van die jaar emigreer.

Mnr. Roger Williams, Emily se pa, skryf die groot skuif toe aan die feit dat die gesin nog steeds sukkel om sy dogter se moord te verwerk.

Williams, sy vrou, Tony, en hul ander dogter Sophie (10) gaan later vanjaar van Johannesburg af na Brittanje verhuis. Hy is oorspronklik van Brittanje, maar bly nou al 17 jaar in Suid-Afrika.

“Ons het nou al vir ’n lang tyd soos baie mense hieroor gewroeg, maar ná ons dogter se moord het ons besef ons kan dit nie doen nie (aanbly nie),” het Williams gister aan Beeld gesê.

“Ons het probeer om met ons lewens aan te gaan, maar ons kan dit nie doen nie. Op die oomblik sien ons geen verbetering in die land nie.”

Emily is in Februarie voor ’n vriendin se huis in Fairland, Johannesburg, deur ’n koeël in die kop getref toe ’n skietery tussen veiligheidswagte en rowers losgebars het.

Sy het ten tyde van die voorval saam met haar ma, suster en twee skoolmaats in haar ma se motor gesit.

“My dogter en vrou is nog die meeste van die tyd bang. My dogter is ’n baie sterk mens, maar sy wil glad nie meer alleen by die huis wees nie.

“ ’n Mens mag dalk die beste veiligheidstelsel in jou huis hê om jou familie te beskerm, maar hulle is nog steeds nie veilig nie. My dogter is op ’n straat doodgeskiet, terwyl sy op pad skool toe was.”

Vier verdagtes is in verband met Emily se moord in hegtenis geneem.

Een van die verdagtes is tans besig met ’n borgtogaansoek in die Johannesburg-landdroshof, maar die saak sloer omdat daar nog ’n uitkenningsparade gehou moet word.

Volgens Williams is sy vrou gevra om die parade by te woon, maar was dit swak gereël en het dit nie plaasgevind nie.

“Ons sal nog steeds terug moet kom om getuienis in die saak te gee. Ons wil ook seker maak dat die saak hoë-profiel bly, want dit is hoe ons sal verseker dat daar wel iets sal gebeur.”

Hulle sal ook nog aktief betrokke bly by die Emily Williams-fonds, wat vroeër vanjaar gestig is om kunstige kinders te help.

Die nywerheidsgroep AECI, waar Williams as finansiële hoofbestuurder werk, het gister op die JSE-webtuiste sy bedanking bekendgemaak.

“Ek is baie hartseer om die maatskappy te verlaat, omdat dit ’n baie opwindende tyd vir hulle is en daar baie toekomstige vooruitsigte is. Maar ek moet my gesin se veiligheid eerste plaas.”

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2319770,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.