Thursday, 22 May 2008

Ná nagmerrie lewer hy pizzas af vir geld

Mnr. Nico Bouwer (25) en sy vrou, Rose-Mary, op hul troudag. Foto: Rapport

May 21 2008 10:48:28:603PM - (SA)

Marietie Louw-Carstens

Polokwane (Pietersburg). – ’n Plaaslike man wat glo herhaaldelik in polisieselle verkrag is, moes sy werk weens emosionele trauma bedank en lewer nou pizzas af vir geld.

Mnr. Nico Bouwer (25) het aan Beeld gesê sy lewe is verwoes ná die beweerde voorval vroeër vanjaar.

Boonop is die polisieondersoek na die beweerde voorval, bykans ses maande nadat dit gebeur het, nog nie afgehandel nie.

Bouwer se gru-verhaal maak tans opslae nadat dit op die internet verskyn het en per ketting-e-pos versprei word.

“Ek weet nie wie my storie op die internet gesit het nie, maar ek is bly: nou kan al hoe meer mense die waarheid hoor.”

Bouwer het besluit om openlik te vertel wat met hom gebeur het om só ander wat moontlik deur dieselfde nagmerrie is, te help.

Bouwer is ook besig met ’n siviele geding teen die polisie omdat hy beweer polisielede het hom nie toegelaat om ’n oproep te maak nadat hy in hegtenis geneem is nie.

Hy is op 6 Januarie op aanklag van roekelose en nalatige bestuur in hegtenis geneem. Hy was van ’n vriend af op pad na sy huis in die stad toe sy motor se linkerband gebars en hy ’n lamppaal en ’n verkeerslig, op die Lebowakgomo-pad aan die buitewyke van die stad, getref het.

“Ek was beslis nie dronk nie. Ek het nog die insleepmaatskappy al my inligting gegee.”

Bouwer is per ambulans met onder meer ’n gebreekte rib, verskeie snye aan sy gesig en kop, asook ’n borsbesering, in die Polokwane-hospitaal opgeneem.

“Toe ek weer sien, kom haal die polisie my. Ek was nog vol snye en bloed.” Bouwer is na die stad se polisieselle geneem.

“Ek het herhaaldelik gevra of ek my een oproep kan gebruik, maar dit is my geweier.”

Hy het gesê daar was sowat 25 aangehoudenes in die selle. Volgens Bouwer het ’n groep van min of meer agt hom aangeval en herhaaldelik verkrag. Van die aangehoudenes het sy arms vasgehou, bo-op hom gesit en sy kop in ’n kussing gedruk terwyl hulle hom glo verkrag het. “Ek kon niks doen nie, want ek het gekrul van die pyn weens my beserings.” Sy hulpkrete het op dowe ore geval. Bouwer kon eers die volgende oggend sy prokureur bel en is op borgtog vrygelaat.

Hy moes daarna antiretrovirale middels gebruik en het onlangs gehoor hy is MIV-negatief.

“Ek kry nog nagmerries en partykeer raak ek net moerig. My lewe is omgekrap.” Hy kry sielkundige behandeling en kon weens trauma nie sy werk by ’n koeriermaatskappy volhou nie.

Hy was ook lank siek weens die antiretrovirale middels.

Bouwer is ondanks die nagmerrie in Maart met Rose-Mary getroud. “Nou lewer ek pizzas af om net kos op die tafel vir my vrou en seuntjie te sit.”

Volgens Bouwer beloop sy mediese rekeninge derduisende rande. Hy het gesê mense van Doebai het hom al gekontak nadat hulle die e-pos gesien het.

Die e-pos voer aan dit is rassisme dat Bouwer glo verkrag is in die selle en na bewering nie deur die polisie gehelp is nie.

Insp. Lesiba Ramoshaba, polisiewoordvoerder in die stad, het gesê die ondersoek na Bouwer se bewerings duur voort.

Die saak van roekelose en nalatige bestuur teen Bouwer is nog hangend. Ramoshaba het gesê ’n klag van verkragting en sodomie wat Bouwer aanhangig gemaak het, word ook nog ondersoek.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2326653,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.