Thursday, 8 May 2008

‘Ontsnapte aanvaller’ slaan weer toe

May 07 2008 10:03:53:750PM - (SA)

Buks Viljoen

’n Werker is gister doodgeskiet en ’n boervrou beseer in ’n rooftog op ’n plaas in Mpumalanga waaraan ’n ontsnapte plaasaanval-verdagte glo deelgeneem het.

Mev. Helen Mcginn (45) van die plaas Kwaggafontein naby Carolina het teruggebaklei en ’n ongeluk veroorsaak in die motor waarin haar werker se moordenaars haar ontvoer het. Dit het waarskynlik haar lewe gered.

Mcginn het gister gesê dat drie mans omstreeks 07:30 by die plaas opgedaag het.

“Hulle was al Maandag hier en het gesê hulle wil skape koop. Hulle sou Vrydag terugkom.”

Hulle het egter gister weer opgedaag. Kort ná hul aankoms moes Mcginn Carolina toe gaan om Nicholas (7), haar seun, by die skool te gaan aflaai.

Sy en Nicholas woon alleen op die plaas waar sy met skape boer.

Met haar tuiskoms het sy na die skaapkraal gegaan waar mnr. Thulani Mthimunje (28) saam met die drie was.

“Die volgende oomblik het een ’n handwapen uitgepluk en Mthimunje in die bors geskiet,” het Mcginn gesê. Hy is op slag dood.

Die rowers het Mcginn na die plaasopstal gesleep waar hulle na geld gesoek het. Hul soektog is egter kortgeknip toe hulle ’n kas oopgemaak en op slange afgekom het.

“Ek hou koringslange en ander soorte, soos luislange, in die huis aan ter wille van ons eie veiligheid,” vertel Mcginn.

Die rowers kon net sowat R150 in die huis kry.

Hulle het Mcginn in haar Toyota Prado gedwing voordat hulle daarmee van die plaas af gevlug het.

“Toe een van hulle homself op my afdwing, het ek besluit om terug te veg.”

Sy het tussen twee van die rowers op die agtersitplek gesit. In die bakleiery het sy een van hulle so hard geskop dat hy tot voor in die voertuig geval en hard teen die bestuurder gestamp het. Die bestuurder het toe beheer oor die voertuig verloor en dit het gerol.

Sy is uit die voertuig geslinger en kon weghardloop en in die bosse gaan skuil.

Nadat die drie rowers weggehardloop het, het Mcginn ’n verbygaande voertuig voorgekeer.

Die polisie het later ’n .357 Magnum-rewolwer, die moordwapen, op die ongelukstoneel gekry. Dié wapen is twee weke gelede in ’n aanval op ’n bejaarde egpaar van Machadodorp gebuit.

’n Verdagte in daardie saak is kort na dié aanval gearresteer, maar het ’n week later ontsnap.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2318421,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.