Saturday, 10 May 2008

Oumagrootjie laat aanvallers les opsê

Snippie die poedel sal voornemende rowers 'n ding of twee wys as hulle weer sy familie wil seermaak. Mevv. Jemima van Rensburg (links) en Mavis Makoena is gister in Monmouthstraat, Sherwood, deur drie huisrowers aangeval. Foto: Charles Pullen

May 09 2008 10:01:31:043PM - (SA)

Bobbi Scheckle

Port Elizabeth. – ’n Oumagrootjie het hier met haar naaldwerkskêr haar só goed teen haar aanvallers verweer dat hulle uiteindelik op die vlug moes slaan.

“Dit is die Here se wil dat ek nog vandag hier is.”

Dit was mev. Jemima (Jackie) van Rensburg (69) se eerste woorde ná die aanval op haar en haar huiswerker, me. Mavis Makoena (48), Donderdag in die Sherwood-woonbuurt.

En hoewel dié dapper ouma en oumagrootjie van 47 klein- en agterkleinkinders teen haar aanvallers terugbaklei het, is sy nou so vreesbevange dat sy nie lekker kan slaap nie.

Van Rensburg het Donderdagoggend op haar bed in haar dogter, mev. Aldorette Gericke, se huis gesit. Sy het naaldwerk gedoen toe haar poedel, Snippie, begin blaf het.

“Toe ek opstaan, was die eerste aanvaller op my,” het Van Rensburg vertel. Makoena is terselfdertyd in die agterplaas oorval.

“Hy het vir my gesê hy gaan my doodmaak,” het Van Rensburg gesê. Die aanvaller het glo ’n skroewedraaier by hom gehad en Van Rensburg daarmee probeer steek.

“Ek het teruggeval en my naaldwerkskêr wat op die bed gelê het, opgetel en terugbaklei.”

Intussen het ’n ander aanvaller haar met ’n hamer begin slaan.

“Hulle het die mes in my mond gesit en vir my gesê dat ek nie moet skree nie,” het Makoena geskok vertel.

Haar mond is nou nog so seer dat sy nie kan eet nie.

Terwyl die aanvallers Van Rensburg geskop en geslaan het, het sy dit reggekry om die alarm te aktiveer.

“Die foon het begin lui en met die skêr nog in my hand het ek die twee skurke tot by die foon gedwing en dit geantwoord.”

Dit was die sekerheidsmaatskappy wat gebel het ná die alarm afgegaan het. “Ek het geskree: ‘Help, hulle het my!’”

Met dié het al drie die aanvallers op die vlug geslaan.

Daar word vermoed hulle het toegang tot die huis gekry deur oor die muur in die agterplaas te spring.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2319766,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.