Thursday, 22 May 2008

Plaasmoorde veroordeel

May 18 2008 08:16:55:210PM - (SA)

Leopold Scholtz

Brussel. – ’n Invloedryke internasionale organisasie wat minderheidsregte wêreldwyd bevorder, het op sy pas afgelope kongres in Brussel ’n resolusie aanvaar waarin plaasmoorde in Suid-Afrika en diskriminasie teen Afrikaans veroordeel word.

Die besluit is geneem deur die Unrepresented Nations and People’s Organisation (Unpo) wat in 1991 in Den Haag gestig is. Altesame 71 organisasies wat hulle vir minderheidsregte beywer – van die Ogoni’s in Nigerië, die Oeighoere en Tibettane in China tot die Rehoboth-Basters in Namibië – is by Unpo geaffilieer.

Die kongres is geborg deur die groepering liberale partye in die Europese Parlement, waarvan byvoorbeeld die Duitse Vrye Demokratiese Party (FDP), die Britse Liberaal-Demokrate en die Nederlandse Volkspartij voor Vrijheid en Democratie (VVD) deel vorm.

Die besluit oor plaasmoorde en die posisie van Afrikaans is eergister geneem op voorstel van dr. Pieter Mulder, leier van die VF+ in Suid-Afrika, wie se party terselfdertyd amptelik as lid toegelaat is.

Mulder het in ’n onderhoud gesê die leiding van Unpo het die VF+ se aansoek eers teruggehou sodat die Afrika-afgevaardigdes geraadpleeg kon word, maar dié het geen beswaar gehad nie.

Wat die deurslag gegee het, was sy persoonlike kontak met die Afrika-afvaardigings, maar ook die negatiewe rol wat press. Thabo Mbeki en Robert Mugabe in Suider-Afrika speel.

“Almal was op die hoogte van wat gebeur en dit het baie simpatie vir ons saak gewek, by swart en wit. Ek was effens bekommerd oor die Europese amptenare van Unpo, maar hulle was vol begrip. Hulle begin ons nou regtig raaksien.”

Wat die afvaardigings uit Afrika betref, het hy ’n nuuskierigheid en bewondering vir die Afrikaners aangetref.

Mulder het gesê uit die toesprake van die afgevaardigdes was dit duidelik dat die Afrikaanssprekende minderheid se situasie nie uniek is nie.

“Baie van die sprekers het dieselfde klagtes as ons. Hulle wil meer beheer oor hul eie situasie hê.”

Volgens Mulder moet Afrikaanssprekendes nie naïef wees om te dink hulle kan hul posisie sonder enige hulp verbeter nie.

“Ons sal internasionale hulp moet kry.”

Die eenparige aanvaarding van sy mosie wys dat daar wêreldwyd ’n kentering oor Suid-Afrika en minderheidsregte aan die gang is, het hy gesê.

Mulder was vergesel van dr. Frik van Heerden, VF+-lid van die Nasionale Raad van Provinsies.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Wereld/0,,3-71_2324686,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.