Saturday, 10 May 2008

R3 m.-eis ná polisie sê hulle is lede van Boeremag

May 09 2008 10:01:29:390PM - (SA)

Jeanne-Marié Versluis

’n Egpaar en ’n man van Hammanskraal eis sowat R3 miljoen van die minister van veiligheid en sekuriteit nadat die polisie hulle in hegtenis geneem en glo beweer het hulle is lede van die Boeremag.

Mnr. Johannes Jurgens Oosthuizen, een van die eisers, beweer in hofstukke ene insp. Moonsamy het gedreig om hom te “wys hoe lyk God” en het hom twee keer “versmoor” tot hy bewusteloos geword het.

Mnr. Willem Petrus Nel, wat saam met sy vrou, Esther, skadevergoeding eis, is luidens hofstukke deur Moonsamy en ene sers. Pooko op die niere geskop sodat hy bloed geürineer het.

Die eisers is van die Lusthof-kleinhoewes by Hammanskraal. Hulle het elk verskeie eise teen die minister ingestel, ook teen Moonsamy, Pooko en ene mnr. Bhana, ook ’n polisieman.

Oosthuizen (30) sê in hofstukke hy is op 3 Desember 2002 onregmatig vir 17 dae deur dié drie in ’n huis in Laudium, Pretoria, en by verskeie polisiekantore aangehou. Terwyl sy hande agter sy rug geboei was, is hy geklap en getrap.

Volgens Oosthuizen het Bhana hom valslik daarvan beskuldig dat hy ’n lid is van of deelneem aan “die handelinge van die Boeremag wat die regering met geweld omver wil werp.”

Luidens mnr. Nel se hofstukke het Pooko gedreig om hom dood te skiet. Pooko het glo gesê dat Nel “nog nie gesien het hoe moer ek ’n boer nie”. Hy het glo op 4 Desember 2002 tydens sy aanhouding geen kos ontvang nie. Bhana het hom glo vier keer met ’n elektriese apparaat geskok en drie keer met ’n stuk motorbinneband “versmoor”.

Mev. Nel (46) beweer sy is ook aangehou sonder enige redelike verdenking en van die besit van ’n gesteelde selfoon beskuldig.

Sy is ook op 3 Desember 2002 gearresteer en is verbied om haar kinders by die skool te gaan haal. Volgens mev. Nel is sy “valslik toegevoeg” dat plofstof by haar en haar man gevind is. Geen van die drie eisers is saam met die 22 beskuldigdes in die sogenaamde Boeremag-verhoor in die Pretoriase hooggeregshof aangekla nie. Die drie polisiemanne het die bewerings teen hulle in hul verweerskrif ontken.

’n Datum vir die aanhoor van die geding is nog nie bekend nie.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2319768,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.