Tuesday, 20 May 2008

‘Rowers gee my pa nie kans’

Die trane loop oor dr. Vicky Jennings se wange oor haar pa, mnr. Victor Birkenmayer, wat Vrydagaand deur rowers doodgeskiet is. Foto: Cornél van Heerden

May 19 2008 09:53:19:790PM - (SA)

Hilda Fourie

’N Man van Amandasig in die noorde van Pretoria is Vrydagaand tydens ’n familievleisbraaiery deur gewapende rowers in die hart geskiet en in sy huis se lapa gelos om dood te bloei terwyl die ander familielede aangerand en beroof is.

Mnr. Victor Birkenmayer (65) se vrou, Daleen (38), stiefdogter, Danel (13), en ander familielede is drie en ’n half uur aangehou en aangerand terwyl hy sterwend in die lapa gelê het.

Me. Ankia Jordaan, Birkenmayer se skoonsuster, is deur dieselfde koeël wat Birkenmayer neergevel het, in die arm getref.

Me. Birkenmayer het gesê die familie het dié aand saam vleis gebraai toe vier gewapende rowers hulle oorval het.

“My skoonsuster ly aan epilepsie en wou in die huis haar pille gaan haal,” het me. Birkenmayer gesê.

“Ek het net gesien ’n swart man, met ’n geweer in die hand, hou haar om haar nek vas.

“My man het uit die badkamer gekom, ’n glas gegryp en dit na die man gegooi.

“Toe skiet die man en tref Victor in die borskas.”

Volgens me. Birkenmayer het nog drie rowers skielik bygekom en al die kuiergaste, onder wie drie kinders, by die huis ingedwing en met dasse vasgebind.

Die rowers het mnr. Birkenmayer gelos waar hy geval het en die volgende drie en ’n half uur me. Birkenmayer en haar dogter, Danel, asook haar ma, me. Doreen Jordaan (56), haar pa, mnr. Pieter Jordaan (53), haar broer, mnr. Louis Jordaan, sy vrou, Ankia, en hul twee kinders, Lee-anne (8) en Gruger (2), aangehou, met vuurwapens aangerand en geskop.

“Ons gaan julle doodmaak; ons gaan julle doodmaak,” is al wat hulle gehoor het. Hulle het die huis leeggedra, sowat R20 000 kontant gesteel en die gesteelde goedere in Doreen Jordaan se motor gelaai en gevlug.

Nadat die rowers weg is, het Danel losgekom en die res van die mense losgemaak. Net Gruger was nie vasgebind nie.

“Ek wou die rowers net weg hê dat ek iets vir my man kon doen,” het me. Birkenmayer gesê.

“Nadat hulle weg is, is ek dadelik na my man toe, maar hy was reeds weg.

“Ek het hom met ’n kombers toegegooi, ’n kussing onder sy kop gesit en hom net vasgehou.”

Dr. Vicky Jennings (29) het gesê haar pa, wat ’n finansiële administrateur in Pretoria-Noord was, het geglo aan Suid-Afrika.

“Hy het almal altyd ’n tweede, derde en vierde kans gegee, maar die rowers het hom nie ’n tweede kans gegee nie,” het Jennings gesê.

“My pa was ’n wonderlike mens en my held.”

Insp. Matthews Nkoadi, polisiewoordvoerder, het gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar hulle verwag om binnekort arrestasies te maak.

Moord en gewapende roof word ondersoek.

Birkenmayer sal Vrydag om 12:00 vanuit die NG kerk Wonderpark in Amandasig begrawe word.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2325444,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.