Wednesday, 7 May 2008

Rowers vergruis man se kop met ’n hamer

Mev. Merna Botes (74), ma van die vermoorde mnr. Graham Botes, gister voor die huis in Alberton waarin haar seun se verminkte lyk gevind is. Sy word hier deur insp. Annzuette Erasmus ondersteun. Foto: Gloria Edwards

May 06 2008 10:16:12:863PM - (SA)

Gloria Edwards

’n Man (41) is dood en sy vriendin (42) in ’n kritieke toestand nadat hulle gister wreed met ’n hamer in hul huis in Alberton aan die Oos-Rand aangeval is.

Mnr. Graham Botes en me. Cheryl Roux is glo gedurende die vroeë oggendure in hul huis in Marthinus Oosthuizenstraat deur drie verdagtes aangeval. Botes se kop is met ’n hamer vergruis en hy het op die toneel aan sy wonde beswyk. Roux is met ernstige kop- en gesigbeserings na ’n hospitaal geneem.

Die paartjie se tuinier, wat by speurders se aankoms glo nog in die tuin gewerk het, is vir ondervraging na die Alberton-polisiestasie geneem.

Nóg ’n verdagte, ’n Zimbabwiër wat glo vir Botes gewerk het, is later vir ondervraging ingeneem.

Insp. Annzuette Erasmus, polisiewoordvoerder, het gesê die paartjie se huis is deurmekaar gekrap. Niks is skynbaar gesteel nie. “Die verdagtes het vermoedelik met ’n sleutel toegang tot die huis gekry.”

Volgens haar het Roux ’n buurvrou geskakel en glo net geskreeu dat hulle aangeval word. “Die buurvrou het ’n veiligheidsfirma en toe die polisie ontbied. Net voordat me. Roux in die hospitaal onder verdowing geplaas is, het sy aan polisielede gesê dat daar drie aanvallers was.”

Mnr. Jimmy Botes (39) het gesê sy broer en Roux het in November verlede jaar ontmoet en dat hulle skaars ’n maand gelede saam by dié huis ingetrek het.

Hy het die moord op sy broer as sinneloos en onmenslik bestempel.

Volgens hom was Botes taamlik swak nadat hy sy heup verlede jaar gebreek en op ’n heupvervangingsoperasie gewag het. Botes is ook ’n paar maande gelede met ’n bofbalkolf aangeval toe hy na ’n apteek gestap het. Jimmy se vrou, René, het gesê dié voorval het veroorsaak dat hy ’n beroerte gehad en later epileptiese aanvalle gekry het.

Botes se ma, Merna (74), was te geskok om met die media te praat.

Botes laat ’n seun, Lindsay (15), wat in Durban woon, asook nog twee broers, Thornton (45) en Noël (43) agter.

Teen gistermiddag was Roux se toestand nog onveranderd.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2317681,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.