Sunday, 25 May 2008

Vier oorval drie bejaardes op kleinhoewe

Mnr. Pierre Bruyns sukkel om die trane te keer terwyl hy vertel hoe sy ouers op 'n kleinhoewe buite Cullinan deur rowers aangeval is. Foto: Herman Cerwey

May 23 2008 10:09:36:787PM - (SA)

Hilda Fourie

Rowers het ’n bejaarde man in die bobeen geskiet en toe met ’n baksteen oor die kop geslaan nadat hulle hom, sy vrou en nog ’n familielid oorval het.

Oudkomm. (nou lt.kol.) Petrus Bruyns (70) sterk in ’n Pretoriase hospitaal aan, terwyl sy vrou, Lorna (67), en mnr. Frank Wright (80), ’n familielid, vir skok behandel word.

Dié drie bejaardes woon saam in ’n huis op ’n kleinhoewe in Fairfield buite Cullinan.

Mnr. Pierre Bruyns (41), die Bruyns-egpaar se seun, het gister aan Beeld vertel dat Wright gisteroggend omstreeks 03:00 sy hondjie na buite geneem het.

Vier mans het hom oorval en na sy kamer geneem waar hulle hom met dasse vasgebind en ’n stuk lap met ’n staalvoorwerp in sy keel afgedruk het.

Die verdagtes het na die res van die huis beweeg toe Bruyns sr. se twee honde onraad vermoed het en aan die blaf geraak het.

“My pa het met ’n flits in die een hand en ’n vuurwapen in die ander ondersoek gaan instel,” het Bruyns jr. gesê.

“In die kombuis het hy gesien daar is beweging in die binnehof.

“Hy het met die flits op hulle geskyn en gesien dis swart mans wat daar staan.

“My pa het vir my ma geskree om die reaksiemag op die radio te roep. Die mans het my pa in die kombuis oorval en hy het ’n skoot afgevuur.

“My pa het agteruit geloop in die gang, waarna een hom in die linkerbobeen geskiet het.

“Hulle het hom beveel om op te staan, maar hy het gesê hy kan nie.

“Dis tóé dat hulle hom met ’n baksteen oor die kop geslaan het,” het Bruyns jr. gesê.

Daarna het die mans na mev. Bruyns in haar slaapkamer gegaan en geld gevra.

Bruyns sr. het, van waar hy in die gang op die vloer gelê het, vir die mans geskree hulle het nie geld in die huis nie.

Terwyl die mans in die kamer was, het hulle oor die radio gehoor dat die reaksiemag op pad is.

Hulle het verskeie sleutels, selfone, elektriese ware en mev. Bruyns se handsak gegryp en gevlug.

Volgens Bruyns jr. is sy pa se toestand stabiel, maar hy het baie pyn.

Sy ma is nog baie getraumatiseer.

“So ’n voorval maak ’n mens hartseer, veral wanneer my pa so sterk is,” het hy gesê.

“Ek het soveel woede in my, maar ’n mens mag nie haat nie. My pa is die een wat veronderstel is om kwaad te wees, maar al wat hy sê is: ‘Dankie, Here, dit kon erger gewees het’.”

Insp. Johannes Jafta, polisiewoordvoerder, het gesê hulle is op soek na vier verdagtes wat ongeveer 30 jaar oud is.

Jafta het bevestig ’n saak van roof met verswarende omstandighede word ondersoek.

Oorsprong:Beeld
http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2328210,00.html

Vir meer artikels, raadpleeg asseblief die argiewe en soekenjin in die sykolom.
For more articles, please use the archives section or search engine in the sidebar.